Riekert Botha se Shakespeare Manewales

Riekert Botha - Shakespeare-Manewales

Riekert Botha se William Shakespeare Vergrype

Riekert Botha se William Shakespeare Vergrype – Aanhalings uit die geskrifte en boeke van wêreld beroemde skrywers soos William Shakespeare (Willem Wikkelspies, soos die ou mense hom genoem het) kan baie handig te pas kom wanneer iets wat jy reken jou óf ten goede óf ten kwade raak, graag wil beklemtoon. Die gebruik van so ’n aanhaling word dan as ’n soort opsomming ingespan om dit wat jy eintlik op jou hart het, in die openbaar uit te gooi.

In een van sy heel nuutste YouTube videos “116 Vita Dei Woordskool: Gesag of Geraas” haal Riekert Botha ’n baie bekende gedeelte uit William Shakespeare se drama “Hamlet” aan. Die woorde wat deur Hamlet se moeder, Koningin Gertrude, geuiter word, verskyn in die tweede toneel van die derde bedryf van “The Mousetrap,” ’n geënsceneerde onderdeel van Hamlet, wanneer sy sê “The lady doth protest too much, methinks.”

Soos die titel “The Mousetrap” aandui, het Hamlet die verhoogstuk geskryf en opgevoer om sy moeder en haar tweede man Claudius wat sy vader, Hamlet die Koning van Denemarke, vermoor het as’t ware in ’n muisval te lok, met die doel om sy ma onderbewustelik te wys dat hy reeds van die moord op sy pa geweet het. Prins Hamlet het inderdaad toe reeds geweet van die moord op sy pa omdat sy vader se spook reg aan die begin van die drama eers aan Horatio sy vriend en toe aan hom verskyn het om sy vermoording aan hulle bekend te maak. Die spook van sy pa het geëis dat sy seun wraak neem.

Dit was in die naloop hiervan dat Hamlet die plan bedink het om ’n verhoogstuk te skryf en op te voer waarin twee rolspelers Koning Hamlet en Koningin Gertrude gespeel het. Om die skyn van sy ma se getrouheid aan sy pa Hamlet bloot te stel, laat hy die koningin in die draaiboek ’n plegtige verklaring of gelofte aflê waarin sy belowe dat sy nooit weer sou trou nie. Dit is op hierdie spesifieke oomblik dat Hamlet vra, “Madam, how like you this play?” en sy ma toe antwoord, “The lady doth protest too much, methinks.”

In Shakespeare se dae is die woord “protest” nie in die sin van om “beswaar te maak,” of iets “te ontken” of om “twyfel te saai om die onopregtheid of skyn van iemand se woorde aan die lig te bing” gebruik nie. Die betekenis daarvan was om “plegtig te belowe” of om met “’n eed te sweer.” Koningin Gertrude het dus eerder na die koningin in die verhoogstuk se skynheilige en oordrewe belofte om nie weer te trou nie, verwys en dusdoende haar innerlike onopregtheid bloot gelê. Sy het met hierdie frase bedoel dat die vrou te hard probeer het om die gehoor te oortuig, en gevolglik so haar geloofwaardigheid verloor. Daarnaas het Koningin Gertrude met siniese oortuiging geïmpliseer dat sulke plegtige verklarings dom onnosel is, en dit was miskien indirek ter verdediging van haar huwelik met Claudius na die moord op haar man, Hamlet.

Koningin Gertrude se opmerking beteken dus nie, soos Riekert Botha dit wil hê, om twyfel te saai oor iemand se opregtheid en eerlike bedoelings nie. Wat hy eintlik beoog, en dit is seer sekerlik ook die rede waarom hy hierdie bekende gedeelte uit Hamlet aanhaal, is om die opregtheid en eerlikheid van  sommige Christene se welmenende vermanings en bestraffings onder verdenking te plaas. Pleks daarvan om soos Petrus wat in opregte nederigheid die vermaning en bestraffing van Paulus in Galasiërs 2:11-21 ter harte geneem het, en hom van sy verkeerde weg bekeer het, rol Riekert Botha hom toe in ’n kombers van selfbejammering en beskuldig almal wat vanuit die Skrif vir hom wil bewys dat hy dwaal, van geraas en boelie taktieke. As sodanig is hy besig om sy eie vermaning om ononderhandelbaar onder die gesag van God en sy Woord te buig, onder verdenking te plaas. Ons sal later ’n bietjie meer hieroor uitwei.

Shakespeare se Kat aan die Stert Beetkry

Ek weet nie of Shakespeare ’n kat gehad het nie. Die waarskynlikheid dat hy wel een gehad het, is uiters skraal omdat hy dikwels negatief na katte in sy 37 toneelstukke verwys het. Hy het ook so dan en wan in metaforiese trant na katte verwys om die opinies en ingebore natuur van die vroulike spesie te beskryf. Sommiges gebruik dit, en ook van sy sonnette wat hy aan ’n man opgedra het, as bewys dat hy homoseksuele neigings gehad het, ten spyte daarvan dat hy getroud was met Anne Hathaway en drie kinders by haar gehad het. Hoe dit ook al sy, Riekert Botha het beslis die kat by die stert beet om Koningin Gertrude in Hamlet se uitlating “The lady doth protest too much, methinks” as agtergrond vir sy video “Gesag of Geraas” te gebruik. Die frase beteken nie om twyfel te saai oor iemand se onopregtheid nie, veral wanneer dit wel opreg bedoel word.

’n Plegtige eedaflegging of gelofte om nie weer na die afsterwe van jou man te trou nie, het absoluut en net mooi niks met gesag of geraas te make nie – NET MOOI NIKS NIE. Korrek, ’n mens kan iemand se woorde betwyfel wanneer hulle iets belowe, soos om nooit weer na die moord op hulle man of vrou te tou nie, en dan knap daarna weer te trou. Dit is beslis die toppunt van onopregtheid.

So opreg as wat Riekert Botha se Shakespeare aanhaling ook al mag klink, skemer sy eie onopregtheid en oneerlikheid soos ’n verblindende lig deur, wanneer hy die woorde van God, soos aangehaal deur mense wat hom wil reghelp, van versie-gooiery, boeliegedrag en geraas beskuldig. As hy werklik uit sy hart bedoel dat”. . . enigiemand wat met Hom saamstem en praat wat God praat, het gesag, al fluister hulle,” sou hy beslis nie die woorde van God soos sy minagtende “versie-gooiers” dit  vir hom aanhaal, versmaai nie. Paulus sê nie verniet, “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels (toneelstukke, storieboeke, fairytales, ensomeer) . (2 Timoteus 4:3-4).

Benewens sy  pogings om ’n Shakespeare aanhaling as die grondslag vir sy “Gesag of Geraas” video te gebruik, is hy nog steeds besig om God en sy Woord op baie subtiele wyses te verneder. ’n Enkele voorbeeld kan dit voorlopig aantoon.

En Paulus skryf in 1 Korintiërs 2, “En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing;” Paulus sê, Maar verstaan julle nie dat die gesag kom nie uit die manne wat almal kan boelie en slegsê en ’n versie gooi – Dis nie gesag nie, dis geraas.’ ‘en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, . . .’ ‘en die enigste manier hoe dit kan plaasvind is Paulus buig sy knieë ononderhandelbaar onder die gesag van die Seun.

Dit slaan my dronk hoedat Botha so emosioneel aangedaan kan raak oor die gesag van God, maar terselfdertyd minagtend na iemand wat woord vir woord vir hom uit die Skrif aanhaal as boelies en versie-gooiers uitkryt, en boonop verklaar dat versie-gooiery niks anders as ’n geraas is nie. En tog eien hy homself die reg toe om die gesag van God, sy Woord, te gebruik om versie-gooiers te stenig. Verleen my ook asseblief die vrymoedigheid om uit William Shakespeare se Hamlet aan te haal, “Something is rotten in the State of Denmark.”

Om jouself soos Paulus ononderhandelbaar onder die gesag van God te plaas vereis nie net van ons om dit t.o.v die sotereologie te doen nie maar ook die eskatologie. Die gedeelte wat Riekert Botha uit 1 Korintiërs 2 aanhaal, handel hoofsaaklik oor Christus as ons enigste Verlosser (2:2). Daarom sê Paulus in vers 5, “sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.” Waarom Riekert Botha hierdie uiters belangrike vers agterweë gelaat het, weet nugter. Het hy dit doelbewus gedoen om ons, die versie-geraas-gooiers, die kans te gun om hom te boelie?

Christene oor die algemeen sê gewoonlik dat ’n korrekte en volledige verstaan van die eindtyd niks te make het met ons verlossing nie, en tereg ook so omdat geloof alleen in Christus se volbragte werk aan die kruis die enigste saligmakende vereiste is. Die man aan die kruis vir wie Christus gesê het, “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” het waarskynlik niks van ’n wegraping, ’n Wederkoms, ’n Duisendjarige Vrederyk ens. geweet nie. Nogtans gee dit ons op wie die eindtyd soveel nader gekom het en die volledige Bybel tot ons beskikking het, nie die reg om eskatologiese waarhede in die Skrif te verdraai nie, en dis iets wat Riekert Botha gereeld onbeskaamd doen. Ons het ’n ontsettende groter verantwoordelikheid om ook die eskatologie korrek te interpreteer as die mense vroeër in die kerkgeskiedenis, veral toe Paulus nog nie op die toneel verskyn het nie. Daarom skryf hy,

“En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie. Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.” (Handelinge 20:25-30).

Jesus het dit so gestel:

“Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.” (Johannes 16:12-13).

Die toekomstige dinge word hoofsaaklik in 1 Tessalonisense 4, 1 Korintiërs 15 en die boek Openbaring aan ons verkondig en elkeen wat die eskatologiese waarhede wat daarin vervat word, verdraai deur óf dinge weg te laat óf by te voeg, speel met vuur. (Openbaring 22:18-19).

’n Reuse Sprong Van Shakespeare na Matteus 20

Riekert Botha sê,

Die mens wat in gesag wandel, is iemand wat met God saamstem. Dit het niks te doen met geraas nie; dit het niks te doen met ’n uitdrukking nie; dit het niks te doen met een wat slaan op die tafel, met range, medaljes en ’n dik stem nie, en dit het niks te doen met hoe baie jy weet nie. Gesag het te doen met God saamstem want Hy is die gesag. God is die Een wat bepaal wat reg en verkeerd is. Hy’s die gesag. En enigiemand wat met Hom saamstem en praat wat God praat, het gesag al fluister hulle.

Moontlik weet Botha dit nie of miskien wil hy dit nie weet nie, maar God se gesag is nie sommer iets wat uit die bloute soos ’n wolkkolom vanuit die hemel op jou neersak nie. Sy waarneming dat “’n bejaarde tannie wat nie kan lees en skryf nie, baie, baie, baie meer gesag het in haar sagtheid van gees as ’n ou met ses doktorsgrade in teologie, met titels van hier af tot by oom Daantjie in die kallerhok,” is so ietwat onvanpas. Haar bejaardheid en sagtheid van gees mag miskien ontsag vir haar gesag by jou afdwing maar haar gesag om lering, vermaning  en bestraffing vanuit die Woord van God toe te pas, is ’n nul op ‘n kontrak omdat sy nie kan lees of skryf nie.

Sal Botha toelaat dat ’n regter wat nie kan lees of skryf nie en dus niks van die inhoud van ons land se wette en regstelsel weet nie, toelaat dat hy hom beoordeel? God gee nie sommer so lukraak gesag aan iemand wat nie weet hoe om met sy Woord, die Magna Carte van sy gesag, om te gaan nie. Juistement, God is die essensie van gesag. Daar is geen ander gesag bo Hom nie. Sy gesagsuitsprake (leerstellings) is soewerein en finaal, en het altyd die laaste sê. Niks kan dit ooit vervang of weerlê nie. Desnieteenstaande, verwyt Botha almal wat hom wil reghelp, vermaan en bestraf met behulp van God se ewige gesagsuitsprake en noem hulle met afsku geraasmaker versie-gooiers. Is Botha besig om hom ononderhandelbaar onder die gesag van God en sy Woord te plaas wanneer hy sy gesagsuitsprake (leerstellings) met soveel minagting bejeën?

Jy kan nie ewe gedwee dink en verklaar dat jy met God saamstem, en ook net praat wat God praat nie, terwyl jy die grootste klomp tjol onder die son kwytraak, soos –

  • dat daar geen Wegraping is nie,
  • dat daar niks meer op aarde aangaan na die Wederkoms nie,
  • dat die ruiter op ’n wit perd in Openbaring 6 die Here Jesus is en nie die Antichris nie,
  • en dat die 144 000 (12 000 uit die twaalf stamme van Israel) in Openbaring 6 simbolies is van die ontelbare groep uit alle nasies, tale, en volke in Openbaring 7 .

Kan Riekert met ’n rein gewete en met absolute oortuiging getuig dat dit die dinge is wat hy by God gehoor het omdat hy wat Riekert Botha is slegs praat wat God praat en dus die gesag van God in pag het? Dis maar net weer dieselfde ou leuens wat Stephan Joubert verkondig. Waar kry Riekert Botha en Stephan Joubert hierdie nonsens vandaan?

Roomse en Middeleeuse Simboliese Sprokies

Augustinus (N.C. 354-430), die Biskop van Hippo Regius in Numidia, Noord-Afrika, was bekend vir sy bydraes tot die leerstellings van Predestinasie (die Uitverkiesingsleer), sonde en genade (wat alleenlik, volgens Augustinus, verkryg word deur die Roomse sakaramente en die Mis). Daar bestaan genoegsame bewyse dat Johannes Calvyn nie die teologiese sisteem (Calvinisme) wat sy naam dra op dreef gesit het nie. B. B. Warfield verklaar,

“The system of doctrine taught by Calvin is just the Augustinianism common to the whole body of the Reformers.”

Benjamin B. Warfield, Calvin and Augustine, ed. Samuel G. Craig (Phillipsburg, NJ: Presbyterian and Reformed Publishing Co., 1956), 22.

Die stoere Rooms Katolieke webblad, New Advent skryf in die artikel “Teaching of St Augustine of Hippo” skryf as volg:

“It is first of all a remarkable fact that the great critics, Protestant as well as Catholic, are almost unanimous in placing St. Augustine in the foremost rank of Doctors and proclaiming him to be the greatest of the Fathers.”

“Luther and Calvin were content to treat Augustine with a little less irreverence than they did the other Fathers, but their descendants do him full justice, although recognizing him as the Father of Roman Catholicism.”

Augustinus het, soos Riekert Botha en baie ander, vroeër in sy lewe ’n premillennialistiese siening gehad maar dit later laat vaar ten gunste van die Donatis en leke prediker, Tyconius se simboliese of vergeestelikte interpretasie van die Apokaliptiek. Augustinus, die vader van die Roomse Kerk, het ’n amillennialistiese siening onderskryf, waarin hy geen toekomstige Duisendjarige Vrederyk in die vooruitsig voorsien het nie.

Hoewel Augustinus die Millennium Koninkryk van Christus vergeestelik het, het hy nogtans geglo dat die duisend jaar van Openbaring 20 die letterlike periode is tussen Christus se Eerste Koms en sy Wederkoms, d.i. die kerkperiode. Klink nogal bekend, nie waar nie? Maar, toe die jaar 1000 gekom en gegaan het, sonder dat Christus teruggekom het, was Augstinus se chronologiese berekeninge nie bevraagteken nie. Die amillennialiste het ’n slim plan bedink en gou-gou die duur en ook die betekenis van die Millennium Koninkryk vergeestelik (gesimboliseer).

Die 1000 jaar het toe ’n onbepaalde tydraam tussen Christus se Eerste Koms en sy Wederkoms geword. Met hierdie en sommige ander modifikasies, het Augustinus se allegoriese interpretasie van Bybel profesieë die eskatologie gedurende die Middeleeue gedomineer. Dit het ook baie gou aanklank by die Roomse Kerk en sommige leiers van die Reformasie gevind.

Augustinus se eskatologie word tot vandag toe in baie groot segmente van die kerk aanvaar. Diesulkes is maar net besig om terug te keer na Moeder Rome (Roomse Kerk) en die Middeleeue. En dan het Riekert Botha die chutzpah om ons te vertel dat hy as gesaghebbende verteenwoordiger van God net praat wat God praat, terwyl hy en sy eskatologiese maatjie, Stephan Joubert, net praat wat hulle ghoeroe, die vader van die Roomse Kerk, Augustinus gepraat het.

[i] Benjamin B. Warfield, Calvin and Augustine, ed. Samuel G. Craig (Phillipsburg, NJ: Presbyterian and Reformed Publishing Co., 1956), 22.

Nommerpas Eskatolgiese Blapse

Riekert Botha het nogal ’n oulike manier om dinge te sê of om bekende aanhalings uit boeke te gebruik om sy redevoering nommerpas by sy Skrif aanhalings te laat inpas, amper soos ’n gasket op ’n kar se enjin soos hyself eenmaal gesê het. So maak hy ’n reuse sprong vanaf ’n aanhaling uit Shakespeare se drama, Hamlet, na Matteus 20 om ’n onderskeid te maak tussen geraas en gesag. Ons moet ongelukkig vir die soveelste keer meld dat Riekert Botha die kat by die stert beet het, ook hier in sy Skrifuitleg van Mattheus 20.

Die eerste ding wat ons moet beklemtoon is dat Matteus 20:25-28 nie oor gesag in die sin van gesagsuitsprake (leerstellings; teksverse) gaan nie, maar oor gesagsposisies, of dan meer spesifiek, die plek of plekaanwysing wat sy dissipels in sy 1000-jarige Vrederyk sal beklee. Riekert Botha sal dit wat ek nou gaan sê seker moeilik vind om te aanvaar omdat hy voet by stuk hou dat daar niks meer op aarde ná Christus se Wederkoms na die aarde gaan gebeur nie. Nietemin, as hy sy gelofte dat hy slegs praat wat God praat gestand wil doen omdat dit die enigste ware lakmoestoets vir gesag is, dan moet hy erken dat ek nie besig is om geraas te maak nie maar die waarheid te praat. Om dit te doen, moet ons terugblaai na Matteus 19 verse 27-30.

“Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.” (Matteus 19:27-30).

Hierdie toneel speel hom af knap nadat ’n baie ryk man bedroef omgedraai en Jesus verlaat het omdat Hy hom versoek het om alles te verkoop en dit vir die armes te gee sodat hy ’n skat in die hemel kon verwerf. Jesus se stelling dat ryk mense beswaarlik in die hemel kom het die dissipels stomgeslaan omdat hulle onder die invloed van hulle vroeëre kontak met die Fariseërs se voorspoed leringe onder die indruk gekom het dat God sy geliefdes met groot rykdom seën en derhalwe was die armes nie deel van hierdie spesiale seën nie.

Gevolglik het die dissipels Hom gevra “Wie kan dan gered word?” Jesus se antwoord dat alle dinge by God moontlik was, het Petrus blykbaar nie heeltemal tevrede gestel nie, en sy eie stuiwer in die armbeurs gegooi met ’n opvolg vraag, “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees?” Dan kom die wonderlike dinamiese antwoord, Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.”

Soos ek in my vorige artikel verduidelik het, verwys die woord “wedergeboorte” in Matteus 19:27-30 nie na die redding van ’n siel nie maar na die restourasie of vernuwing (“restoration”) van die bestaande skepping wanneer Christus as Koning van die konings gedurende sy 1000-jarige Vrederyk op die troon van sy vader Dawid in Jerusalem sal sit en sy twaalf dissipels ook op 12 trone sal sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel. Jakobus en Johannes se moeder was egter ’n bietjie meer ambisieus. Sy wou graag hê haar twee seuns moes ’n spesiale ereplek langs Jesus in sy 1000-jarige Vrederyk beset, een aan sy regter en die ander aan sy linkerhand.

Toe die ander tien dissipels dit hoor, was hulle verontwaardig. Die woord vir “verontwaardig” (“indignation” op Engels) is “aganakteō” en soos elke goeie woordeboek dit verklaar beteken “indignation”, “anger or annoyance provoked by what is perceived as unfair treatment.” Soos ’n klomp stoute kinders het die een die ander nie hoër geag as hyself nie, maar so te sê voetstampend geskree, “Dis nie fair nie; dis nie fair nie. Wat van ons?” Die hele ou spul se optrede was radikaal teenstrydig met Jesus se voorbeeld in Filippense 2:6-8, “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Filippense 2:6-8). Jesus het hulle eenkant geroep en toe hierdie bekende woorde vir hulle gesê:

“Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Matteus 20:25-28).

Soos reeds vroeër vermeld, het Matteus 20 niks met die verskil of onderskeid tussen gesag en geraas of versie-afknouery of boeliegedrag te make nie. Dit het uitsluitlik te make met ’n plekbereiding vir sy dissipels tydens Christus se heerskappy met ’n ysterstaf in sy Millennium hier op aarde, wat soos Jesus gesê het, “om te sit aan my regter— en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.”

Riekert Botha probeer te hard om sy Shakespeare aanhaling uit Hamlet nommerpas te maak met sy uitleg van Matteus 20 maar slaag nie so lekker nie. Hy kan nie anders as om Matteus 20 net in terme van “gesag en geraas” te interpreteer nie, en dus die welmenende vermanings van andere as boelie versie-gooiers te bestempel nie. Hoekom? – Omdat hy glo dat “daar niks meer aangaan op aarde ná die Wederkoms.” Sy dom onnoselheid, ’n term wat hyself in een van sy videos gebruik, verblind sy oë sodat hy nie kan sien dat Matteus 19 en 20 betrekking het op sy 1000-jarige Vrederyk ná Christus se Wederkoms na die aarde en die plek wat sy dissipels in hierdie Koninkryk sal beklee nie.

Die Gesag van God

Riekert Botha sê:

Gesag is ’n tema wat nogal op ’n baie interessante en kosbare manier aangebied word in die Skrif. Gesag is iets wat God gee en ’n mens wat in gesag wandel, is iemand wat met God saamstem. Dit  het niks te doen met geraas nie; dit het niks te doen met ’n uitdrukking nie; dit het niks te doen met slaan op die tafel nie, met range, medaljes en ’n dik stem en DIE HET NIKS TE DOEN MET HOE BAIE JY WEET NIE. Gesag het te doen met God saamstem want Hy  is die gesag. God is die een wat bepaal wat is reg en verkeerd.  Hy’s die gesag en enigiemand wat met Hom saamstem en die woorde praat wat God praat, het gesag –  al fluister hulle.

Jesus Christus, die Seun van die Lewende God wat die essensie van gesag is en ook in pag het, sê:

“Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: ‘JULLE DWAAL, OMDAT JULLE DIE SKRIFTE NIE KEN NIE EN OOK NIE DIE KRAG VAN GOD NIE.‘” (Matteus 22:29).

Ons sien reeds in die Ou Testament dat die gebrek aan kennis mense ten gronde kan rig.

My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” (Hosea 4:6)

Praat Riekert Botha met gesag omdat Hy saamstem met God en net die woorde praat wat God praat? Hoegenaamd nie;  geheel en al nie; beslis NIE. Hy sê presies die teenoorgestelde wat Jesus Christus, die essensie van gesag, in Matteus 22:29 sê. Volgens die grootste, die manjifiekste, die suiwerste, en die hoogste GESAG in die ganse heelal is onkunde, en veral ook ten aansien van die Woord van God, dié hoofrede waarom mense dwaal en tot allerhande dwaalleringe verlei word. En dan het Riekert Botha die gesaghebbende vermetelheid om diegene wat die Skrif gebruik om dwaling te bestry en aan die lig te bring, as boelies, versie-gooiers, en geraasmakers te brandmerk. Sy snedige opmerkings is niks anders nie as ’n verwerping van dit wat alleenreg het op ware kennis (die ewige Woord van God).

Daarom waarsku Paulus,

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Timoteus 3:16-17).

As die hele Skrif deur God ingegee is en nuttig is tot lering, tot weerlegging en tot teregwysing is dit uiters, uiters gevaarlik om iemand wat versies (’n minagtende verwysing na die Woord van God) aanhaal, as boelies, versie-gooiers en geraasmakers uit te kryt.

Wil jy werklik weet wat goddelike gesag is, Riekert Botha? Hier’s dit:

“Soos ek jou versoek het toe ek na Macedónië op reis was, moet jy in Éfese wag om sekere persone te BEVEEL dat hulle geen ander leer moet leer nie, (1 Timoteus 1:3).

Dit sluit in die volle raad van God – Die kruising, opstanding en Hemelvaart van Jesus Christus, die vergewing van sondes, en die wederorpstaning van die vlees asook die Wegraping, die sewejarige Verdrukking, Christus se Wederkoms na die aarde, die 1000-jarige Vrederyk op aarde en uiteindelik die nuwe hemel en die nuwe aarde.

“Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.” (1 Johannes 4:6).

“To the law and to the testimony: if they speak not according to this word, it is because there is no light in them.” (Isaiah 8:20).

Belangrike Addendum

“Jy hoef nie die argument te wen nie, hoor”

Hoe ontmoedig jy mense om die leringe via die Vita Dei Woordskool te bevraagteken? Watter taktiese skuiwe bewimpel jy om mense skuldig te laat voel wanneer hulle jou leringe volgens Skrif toets en evalueer? O, dis maklik! Jy sê vir hulle,

Jy hoef nie die argument te wen nie, hoor. Jy hoef nie die argument te wen om in waarheid te staan nie, Moenie dink dat waarheid word bepaal deur wie wen die argument nie. Dis waar die wêreld nou is. Die ou wat die hardste skree, het die meeste gesag en die ou wat die argument wen, is reg. Dis nie waar nie. Was nog nooit waar nie. Moenie heeltyd aangaan om geraas te maak en argumente te wen nie. Maak seker jy buig onder die gesag van Jesus en bly daar, en dan het jou lewe outomaties gesag, al fluister jy.

Snaaks genoeg, Riekert Botha pas presies dieselfde taktiek toe wat Paulus eeue gelede gebruik het om ‘n klomp ongelowiges te ontmoedig toe hulle sy leringe nie sommer vir soetkoek opgeëet het nie. Ons lees in Handelinge 17,

Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. (Handelinge 17:10-11).

Dit het nie so lekker op Paulus se ore geval nie en hy het sommer dadelik beswaar gemaak,

Nee, wag, wag, wag net so ’n bietjie. Hokaai! Julle wil net huis toe gaan om julle Bybels te raadpleeg en dan more weer terug te kom om ’n argument met my aan te knoop oor die dinge wat ek julle vertel het, en nog boonop my met versies te gooi. Luister! Julle hoef regtig nie die argument te wen nie. Dis net boelies wat altyd ‘n argument wil wen. Julle hoef nie die argument te wen om in die waarheid te staan nie. Moenie dink dat waarheid word bepaal deur wie die argument wen nie. Luister mooi, alles wat ek julle vertel het is niks anders as die reine waarheid nie. Selfs my bevestiging in 1 Tessalonisense 4 dat daar nie so iets soos ‘n Wegraping is nie, is die reine waarheid. Hoekom wil julle dan die Skrifte ondersoek om seker te maak dat my redevoering die waarheid is? Wat ek julle vertel, is alles die waarheid, so waaragtig waar dat julle Jesus se waarskuwing “Pasop dat niemand mislei nie” gerus maar kan ignoreer. Al wat julle nodig het om te doen, is om onder Jesus Christus se gesag te buig en julle sal outomaties sigselwers in gesag wandel.

So ’n bietjie oordrewe, sal sommiges en ook Riekert Botha miskien dink, maar dit is presies wat hy doen. Hy verklaar onomwonde dat die Vita Dei Woordskool altyd net die waarheid praat en enigiemand wat dit durf waag om Riekert Botha te bevraagteken, wil net altyd die argument wen, en gevolglik nie outomaties onder die gesag van Christus wandel nie.

Wat sê die Skrif?

“Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” (Judas 1:3). 

Riekert Botha het nie ’n clue wat dit beteken om kragtig vir die evangelie te stry nie. Om kragtig te stry beteken nie naastenby om met iemand te argumenteer nie. As jy werklik onder die gesag van Christus wil buig en in sy gesag wil wandel, dan is dit een van die eerste dinge wat jy moet doen.

Die gemeenskaplike saligheid is ’n verwysing na die basiese waarhede rondom redding en verlossing en hoe verlore sondaars dit deelagtig kan word. Judas het dit nodig geag om nie net daaroor te skryf nie omdat valse apostels en leermeesters die geloof van sommige gelowiges omgekeer het met hulle valse leringe.

Die geloof waarvoor gelowiges hard moet stry, is dus iets meer as net die gemeenskaplike geloof. Gesag is ook nie iets wat sommer outomaties in jou skoot val wanneer jy jouself met die mond onder die gesag van God plaas nie. Dit verg stryd, ’n harde stryd om die suiwerheid van die geloof gestand te doen “sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring.” (Efesiërs 4:14). Daarom waarsku Christus onder wie gesag Riekert Botha hom ononderhandelbaar geplaas het, “PASOP DAT NIEMAND JULLE MISLEI NIE.” Met ander woorde, dis nie iets wat sommer outomaties aan jou gegee word nie. Die onus rus op jou om nie mislei te word nie, en die Here gaan jou verantwoordelik hou omdat jy nie persoonlik gewaak en gebid het nie, en goedmoeds toegelaat het dat jy mislei word. Jy self moet sorg dat jy nie deur ‘n klomp wolwe in skaapsklere weg van die waarheid af meegesleur word nie. Kom ek gooi Botha met nog ‘n versie.

“En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.” (2 Petrus 3:15-16).

Wat behels hierdie geloof wat, soos Judas sê, nie net gaan oor die gemeenskaplike saligheid nie en waarvoor gelowiges hard moet stry? Die eerste ding is om nie net die valse profete by name te noem nie, maar ook om hulle valse leringe en veral hulle spottery bloot t lê. Om hulle net te identifiseer, is nie genoeg nie. Jy moet hulle leringe in die lig van die Skrif toets en evalueer (1 Johannes 4:1). En dít, mnr. Botha, is die gesag wat God alle ware gelowiges gee, om vanuit die Skrif valse profete en apostels te identifiseer, en hulle met die gesag van die Skrif ernstig te waarsku en te beveel om hulle te bekeer van hulle valse leringe.

Judas vermaan sy lesers om te onthou wat tevore deur die apostels en onse Here Jesus Christus oor valse profete en apostels gespreek het. (verse 17-19). Paulus het gewaarsku teen “wrede wolwe” wat sou kom om die kudde te vernietig en die waarheid te verdraai (Handelinge 20:29-30). Hy het soortgelyke waarskuwings van afvalligheid aan Timoteus gerig (1 Timoteus 4:1; 2 Timoteus 3:1-5; 4:3-4). Timoteus het Paulus se waarskuwings nie as geraas of bitsige argumente bestempel nie. Petrus het dieselfde kwessies aangespreek (2 Petrus 2:1-3; 3:3-4).

As deel van hierdie geloof wat nie oor die gemeenskaplike saligheid gaan nie, is Judas se vermaning om met groot afwagting en verwagting (prosdechomenoi, met verlange uit te kyk en uit te sien) na die salige hoop, die terugkeer van Jesus Christus vir sy bruid (by die Wegraping). Die Wegraping is die volmaakte voleinding van sy genade t.o.v. sy bruid. (20-21; Hebreërs 7:25). Desnieteenstaande, spot Riekert Botha graag met die Wegraping en die 1000-jarige Vrederyk. Hy dink dis nie OK om te argumenteer nie, maar dit is OK om te spot. Hoe werk dit? Ons kan inderdaad sê hy boelie die Woord van God.

More articles on Riekert Botha here.

Please share:

Tom Lessing (Discerning the World)

Tom Lessing is the author of the above article. Discerning the World is an internet Christian Ministry based in Johannesburg South Africa. Tom Lessing and Deborah Ellish both own Discerning the World. For more information see the About this Website page below the comments section.

2 Responses

  1. Trinita says:

    Sorry, I couldn’t read this, as it was not in English. I do appreciate this ministry’s work and look foward to futures articles in English.

  2. Dear Trinita :hi:

    Thank you for your comment. You can translate this page into English using the Google Translate tool to be found at the bottom of the page, just scroll down, it’s under the revolving earth globe. :nod: It wont be a perfect translation, but it’s better than nothing.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *