Riekert Botha se Markiestent

Wat is Gevaarliker . . .?

Wat is gevaarliker, ’n bose terroriste aanval waarin duisende mense hulle lewens verloor of ’n engel van die lig wat duisende mense leer dat God se leerstellings en doktrines nie so belangrik is nie? Besluit self terwyl u hierdie artikel lees.

Riekert Botha sê so teen die einde van sy YouTube video, “117 Vita Dei Woordskool: Die Markiestent” “As jy hoor God praat met jou, reageer asseblief.” Ek hoor inderdaad God praat met my wanneer ek sy Woord lees en daarom reageer ek. Dankie vir die vriendelike uitnodiging. Riekert en waarskynlik ook sy vrou, Pippa, asook die meerderheid gulsige vrouens wat sy kop gedurigdeur in ’n doopvont van ’n magdom lofliedere doop, laat my dink aan Paulus se waarskuwing in sy tweede sendbrief aan Timoteus.

“Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word, wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.(2 Timoteus 3:6-7).

Kyk gerus op Botha se Facebook. Dit is hoofsaaklik vrouens wat hom die lofliedere van Asaf toesing. Sjoe! Maar dis darem pynlik onchristelik om so iets kras van vrouens te sê, nie waar nie? Watter reg het ek om Paulus se kras vermaning op Riekert Botha se Facebook vroulike geslag toe te pas?

Ek het beslis die reg omdat sommige van die dinge wat hulle sê en glo lynreg en radikaal téén die Skrif ingaan, en sodoende bewys hulle dat hulle “altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.” Hoekom is hulle nie IN STAAT om tot die kennis van die waarheid te kom nie? Wel, lees gerus wat Vasti Koekemoer oor Riekert se video “Die Markiestent” in die openbaar geskryf het.

Vasti Koekemoer

Nie lerings en doktrines nie …. JESUS die MAS, MIDDELPUNT, FONDAMENT, DOEL, LEWE en EINDBESTEMMING!!!! (Klem bygevoeg).

Dis mooi woorde nê? – JESUS DIE MAS, MIDDELPUNT, FONDAMENT, DOEL, LEWE EN EINDBESTEMMING. Wie kan daarteen stry? My vraag is, hoe kan Jesus Christus al hierdie dinge vir jou wees terwyl jy nie sy lerings en doktrines wil hê nie? Hoe kan jy verklaar dat jy Jesus as jou MAS, MIDDELPUNT, FONDAMENT, DOEL, LEWE EN EINDBESTEMMING liefhet wanneer jy sy vermaning in Johannes 14:15, “As julle My liefhet, bewaar my gebooie (leerstellings en doktrines)” versmaai?  (Johannes 14:15). Jesus se gebooie sluit al sy leerstellings, al sy doktrines, en al sy beloftes in.

“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Timoteus 3:16-17).

Wat Vasti Koekemoer eintlik suggereer, is: “Ons soek nie God se leringe en doktrines nie want ons wil nie tereggewys, vermaan, of weerlê word nie, en ons wil ook nie in die geregtigheid onderwys ontvang nie, want ons wil eintlik nie volkome wees nie en vir elke goeie werk volkome toegerus wees nie.”

Waar en by wie het Vasti Koekemoer geleer dat lerings en doktrines nie belangrik is nie? Dis nie so moeilik om die skuldige wysgeer uit te ken nie. Luister mooi na die volgende wyshede van ’n man wat die  leerstellings en doktrines van God geringag wanneer hy in verkleinde vorm daarna verwys (Matteus 5:19). Soos oom Angus Buchan wat op ’n kol na God se leerstellings en doktrines as “petty doctrines” verwys het, en ons vriend, Stephan Joubert, God se profesieë “little prophecies that you can pick out with a litttle tweezer” genoem het, so praat Riekert Botha met minagting van God se leerstellings en doktrines.

Het u opgemerk hoe Riekert Botha in verkleinwoord vorm na Jesus se leerstellingtjies en doktrinetjies verwys, terwyl hy met fanfare en basuingeklank God die Vader se welbehae in sy Seun en sy Woord (leerstellings en doktrines) besing? (Matteus 17:5). Hoe rym dit? Hoe kan jy na die Seun luister in wie God ’n welbehae het terwyl jy sy leerstelliingtjies en doktrinetjies met minagting bejeën, soveel so dat dit mense wat jou leringe volg, waardeer, en lof toesing aanspoor om te sê, “Nie lerings en doktrines nie …. JESUS die MAS.”?

JESUS die MAS

Marquee-tent2

Benewens die feit dat die Heilige Gees nie ’n enkele keer in die Ou en Nuwe Testamente na Jesus as die Mas verwys nie, is dit opvallend dat wanneer die woord “mas” gebruik word dit altyd in die konteks van sonde, rebellie teen God en God se oordele gebruik word. Die woord “mas” kom slegs drie keer in die Ou Testament voor en nie ’n enkele keer in die Nuwe Testament nie. Wat leer dit jou? Jy moet nie net luister na alles wat Jesus wel sê nie; jy moet ook “luister” na alles wat Hy nie sê nie. As jy dit nie doen nie, beteken jou basuingeklank oor God se welbehae in sy Seun en sy opdrag om na Hom te luister, net mooi niks nie.

Die allegoriese gebruik van ’n mas in Spreuke 23:34, “en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê,” het betrekking op wynsuipers wie se gedrag vergelyk word met ’n skip se mas wat heen en weer geslinger word deur ’n rowwe see terwyl die wynsuiper probeer om, asof hy bo-op die mas lê, regop te loop.

In Jesaja 33:22, “Jou toue hang slap, hulle hou die voetstuk van hulle mas nie styf nie, hulle ontplooi nie die banier nie; dan word roofbuit verdeel in menigte, selfs die lammes maak buit” word ’n mas gebruik om die oordele van God oor die nasies wat sy volk Israel in die eindtyd verag, vervolg en so graag wil vernietig, te beskryf. Die vyande van Israel het enorme mag en krag, veral hulle skeepsmag, maar sal wees soos slap toue wat die mas nie in plek sal kan hou nie as God met hulle afgereken het. Hulle mag en krag sal in so ‘n drastiese mate deur God se oordele verswak en vernietig word dat selfs die lammes sonder gevaar in staat sal wees om hulle te plunder.

Stephan Joubert 1
Stephan Joubert

Die ouens soos Stephan Joubert en Riekert Botha wat so graag glo en verkondig dat die twaalf stamme van Israel nie meer bestaan nie en dat God ’n nuwe volk (die kerk) in die plek van Israel verwek het, plaas hulleself onder dieselfde soort oordele. Die Here sê eintlik vir hulle, “Julle verwerp en verag my beloftes wat Ek aan my volk Israel gemaak het (Jeremia 31:35-37), en in my Seun in wie Ek ’n welbehae het as ja en amen bevestig het? (2 Korintiërs 1:20). Julle toutjies sal slap hang terwyl julle dink en glo dat julle my Seun as DIE MAS eer en aanbid maar in werklikheid ’n ander Jesus volg en aanbid, ’n ander evangelie verkondig omdat julle ’n ander gees ontvang het. Bekeer julle van julle verkeerde weë” (2 Korintiërs 11:4).

Korrekte Allegorie

Om allegorieë, benamings en betitelings te gebruik wat jyself sommer so in jou ou koppie prakseer soos dat Jesus die MAS is van die markiestent, veral om God se leerstellings en doktrines in verkleinwoord vorm onder jou voete te vertrap, herinner aan Judas 1:14-15, en let asseblief streng op, dit is nie in die verkleinwoord vorm geskryf nie maar is “HUGE,”

“En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tien duisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.

Daar’s sekerlik niks daarmee verkeerd om allegorieë te gebruik nie. Doen dit gerus, maar gebruik dan eerder God-geïnspireerde allegorieë in die Bybel want dit verklein beslis nie die leerstellings en doktrines van God nie. Riekert Botha sou die regte impak op sy Facebook volgelinge gehad as hy eerder Paulus se allegorie van ’n fondament in 1 Korintiërs 3 pleks van ’n mas gebruik het. Kom ons lees dit om die regte konteks te kry.

Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” (1 Korintiërs 3:9-15).

Ons kan dit soos volg opsom.

  • Ware Christene is almal medewerkers van God. Hulle is nie die makers of skeppers van leerstellings en doktrines nie maar slegs die draers, verkondigers, verdedigers (Judas 1:3; 2 Timoteus 4:2) en toedieners daarvan vir die opbouing, versterking en vertroosting van die liggaam van Christus.
  • Christus is die Fondament, die enigste Fondament, waarop ware gelowiges hulle bouwerk met behulp van hierdie leerstellings en doktrines kan bou. Hulle moet egter baie versigtig wees hoe hulle daarop bou. Ses stelle boumateriaal word genoem. Die eerste stel is goud, silwer en edelgesteentes en die tweede is hout, hooi en stoppels.
  • Hierdie bouwerk sal op ’n spesifieke dag met vuur op die proef gestel word – let wel, op die proef gestel word om die kwaliteit daarvan te toets. Dit kan nie ’n gewone vuur wees soos ons dit ken nie. Dit is ’n verterende vuur. God self word telkens in die Bybel ’n verterende vuur genoem om sy geweldige oordeelskrag, en sy ondeurgrondelike regverdigheid en geregtigheid te beskryf. Daar is en was nog nooit iets, hoe gering en klein ook al, wat sy geweldige oordeelskrag en vermoë ontsnap het nie. Alles is oop en bloot voor sy oë. (Hebreërs 4:13).
  • Alleenlik die goud, silwer en edelgesteentes, die werk wat die Heilige Gees in en deur gelowiges doen, sal op daardie dag in God se verterende vuur staande kan bly. Alle werke wat gelowiges in en deur die vlees doen, sal soos hout, hooi en stoppels deur God se vuur verteer word sodat net ’n hopie as oorbly. Dit sal bepaal wie loon ontvang en wie skade ly. Laasgenoemde sal nie soos die ongelowiges verlore gaan nie, maar sal asof deur vuur heen die ewige lewe beërwe (2 Korintiërs 5:10).
  • Hierdie oordeel vind plaas ná die Wegraping en vóór die sewejarige verdrukking (Daniël se 70ste week) by Christus se Bematroon oordeel in die hemel om sy Bruid voor te berei vir die bevestiging van die Huwelik van die Lam.
  • Die gelowiges (Bruid van die Lam) word dus nie op een slag saam met die ongelowiges geoordeel nie. Die oordeel van ongelowiges aan die einde van die Duisendjarige Vrederyk is ’n oordeel tot die tweede dood; dié van die gelowiges by die Bematroon is ’n oordeel om te bepaal wie van die gelowiges lone en krone ontvang en wie van hulle skade sal ly.

Ten spyte van sy hardvogtige verwerping van die Wegraping, lyk dit of Riekert Botha se markiestent allegorie geskoei is op Paulus se woorde in 1 Korintiërs 3:9-15, met dié uitsondering dat die mas of ankerpaal en die tentpenne in sy allegorie die Fondament en die werke van die gelowiges in Paulus se beskrywing vervang.

Die ironie van die saak is dat Riekert hom op die terrein van die wegraping sou moes begewe as hy die analogie van ’n fondament pleks van ’n mas sou gebruik, en soos julle seker reeds weet verwerp hy met hand en tand enige vorm van ’n wegraping, netsoos hy ook die Duisendjarige Vrederyk ontken. Dit kom dus voor dat sy tentpenne analogie baie subtiel gerig is op eindtyd gebeure soos die Wegraping, die Bematroon oordeel, die bevestiging van die Huwelik van die Lam in die hemel, die Bruid se terugkoms na die aarde saam met haar Bruidegom by sy Wederkoms na die aarde, die totale binding van die Satan deur ’n engel vir ’n 1000 jaar, en die feesmaal (wittebrood) hier op aarde (Duisendjarige Vrederyk). Dis na hierdie dinge waarna hy verwys as leerstellingtjies en doktrinetjies, netsoos Stephan Joubert wat na God se profesieë verwys as “little prophecies that you can pick out with a little tweezer.”

Wat dink God van sy Leerstellings en Doktrines?

Ons weet nou wat Riekert Botha van God se “leerstellingtjies” en “dokrinetjies” dink, maar wat dink God self daarvan? Dit sal bepaal of Botha en sy Facebook vriende wel deeglik na die Seun in wie die Vader ’n welbehae het, luister. Kom ons begin met Jesus Christus se Hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 om te sien hoe intens belangrik God se leerstellings vir God die Drie-eenheid werklik is.

“Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.” (Johannes 17:17).

Let noukeurig op, Hy sê nie “Heilig hulle met u waarheid” nie; Hy sê “Heilig hulle IN u waarheid.” Dit beteken om volledig in sy waarheid begrond of gegrondves te wees, en aan sy waarheid toegewy te wees. En dan kwalifiseer hy hierdie waarheid as “u woord.” Hierdie “woord” omsluit alles, ek herhaal, ALLES in wat tussen die heel eerste woord “IN” in Genesis 1 en die “AMEN” in Openbaring 22:21 staan, en NIKS daarvan word ooit met die verkleinwoorde “leerstellingtjies” en “doktrinethies” omskrywe nie. Net mooi niks nie.

Enigiemand wat dit durf waag om “Nie lerings en doktrines nie …. JESUS die MAS” in die openbaar te proklameer en dit boonop met die verkleinwoorde “leerstellingtjies” en “doktrinethies te verkleineer is besig om die Gees van waarheid wat volgens Jesus se belofte in Johannes 16:13 die gelowiges in die HELE waarheid lei, met minagting te omskep in ’n HEILIGE GESIE.

Let wel, die Gees van Waarheid is nie net gestuur om verlore sondaars van hulle sondes, en God se geregtigheid en oordele te oortuig nie maar ook die toekomstige dinge (“things to come”) aan die gelowiges te verkondig. Dit gaan dus nie net om redding en verlossing nie maar ook oor die toekomstige dinge waarna ware gelowiges met reikhalsende verlange moet uitsien, soos o.a. die Wegraping, die Bematroon oordeel, die huweliksbevestiging van die Lam, en die Duisendjarige Vrederyk. Dis hierdie laasgenoemde dinge waarna Riekert Botha as “leerstellingtjies” en “doktrinetjies” verwys en tentpenne sonder ’n mas noem. As dit nie die dinge is wat Christene teëhou om Jesus as die Mas in plek te sit nie, dan moet hy vir ons verduidelik wat hy bedoel met “leerstellingtjies” en “doktrinetjies.” Is die Jesus na wie hy as die Mas verwys nie miskien ’n ander Jesus nie?

“Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.” (Psalm 12:7).

Dit slaan my dronk dat mense God se Woorde en alles wat sy Geliefde Seun sê waarna ons moet luister, en wat deur en deur soos silwer gelouter en gesuiwer is, so minagtend as “leerstellingtjies” of “doktrinetjies” kan diskrediteer, soveel so dat hulle die vermetelheid het om te sê,Nie lerings en doktrines nie …. JESUS die MAS.” Alles wat hulle nie verstaan nie, vee hulle onder ’n mat van simboliese vaagheid in, en basta met die res. Die 144 000 verseëldes in Openbaring 6 word eensklaps die simboliese syfer vir die ontelbare groep uit elke stam, volk, nasie en taal in Openbaring 7; die Duisendjarige Vrederyk word simbolies die tydperk van meer as 2000 jaar tussen Christus se Eerste Koms en sy Wederkoms, ensomeer, ensomeer, ensomeer.

True-Identity-of-Jesus - Riekert Botha

Riekert se poster “Die ware identiteit van Jesus bepaal die gewig van sy woorde. Wat Hy ook al sê, is belangrik vanweë wie Hy is” klink so reg en so mooi, Maar, is dit? Waarop kom sy mooi woorde in sy poster eintlik neer? Dit kom daarop neer dat leraars Jesus se Naam ad infinitum van die more tot die aand op hulle lippe kan neem en terselfdertyd die grootste klomp dwaalleringe verkondig, sonder dat hulle hoorders enigiets vermoed of agterkom, juis omdat hulle glo dat hulle leraars die ware identiteit van Jesus ken en verkondig. Dit is presies wat met Vasti Koekemoer en haar man gebeur het. Hulle is vas oortuig dat “Jesus die Mas” Christus se ware identiteit is met die gevolg dat Nie lerings en doktrines nie …. JESUS die MAS” en “leerstellingtjies” en “doktrinetjies” vir hulle die gewig dra van sy identiteit.

Die Here sê presies die teenoorgestelde van wat Riekert Botha in sy poster kwytraak. God verklaar dat dit sy woord, sy beloftes, sy profesieë, sy voorspellings en sy leerstellings en doktrines is wat sy ware identiteit bepaal en openbaar, tot dié mate dat Hy sy Woord bo sy Naam (identiteit) verhef het. Die KJV sê dit so:

“I will worship toward thy holy temple, and praise thy name for thy lovingkindness and for thy truth: for thou hast magnified thy word above all thy name.” (Psalm 138:2).

Dis is lankal nie meer net God se goedertierenheid wat die wolwe in skaapsklere aanval en onder hulle voete vertrap nie maar ook die volle raad van God; sommiges betwyfel die waarheid van die geïnspireerde Woord van God ten aansien van die historiese agtergrond daarvan, ander bevraagteken sy leerstellings en doktrines veral t.o.v. eindtyd gebeure soos die Wegraping en die Duisendjarige Vrederyk, terwyl baie ander smalend en spottenderwys oor sy profesieë praat. Hulle maak hulself skuldig aan minagting vir die Woord van God wat, soos Psalm 138:2 sê, God self bo sy Naam verhef het.

Nie eens die Heilige Gees gebruik met minagting verkleinwoorde in sy verwysing na die leerstellings van duiwles in 1 Timoteus 4:1 nie. Waar Riekert Botha sy vermetele braafheid vandaan kry om dit met God se leerstellings en doktrines te doen, sal seker net hy weet.

Wat my baie kwaad maak is om te aanskou hoedat duisende mense so gruwelik mislei word. Die persone wat op Botha se Facebook kommentaar gelewer het, lyk, volgens hulle Facebook profiele, almal na baie oulike Christene wat opreg die Here wil volg. En dan skielik verskyn daar ‘n engel van die lig wat hulle leer “NIE LEERSTELLINGS EN DOKTRINES NIE – JESUS DIE MAS.

Mnr. die engel van die lig, daar sou in der ewigheid hoegenaamd geen lerings en doktrines, selfs nie eens leertsellingtjies en doktrinetjies, gewees het nie, was dit nie vir die Mas nie. Die leerstellings is almal op hulle plek (ja en in amen in Christus) . Dit is ouens soos julle, Riekert Botha en Stephan Joubert, wat die “ja en amen beloftes” (tentpenne) van Christus genadeloos uitpluk en van julle af wegsmyt om niksvermoedende vrouens soos Vasti Koekemoer te mislei.

Jesus Christus het gewaarsku, “Pas op dat niemand julle mislei nie” (Matteus 24:4) toe sy dissipelss Hom op die Olyfberg gevra het, “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Misleiding is dus die primêre aanvalswapen van die Satan en sy hordes wat daarop uit is om Christene se lewens te vernietig. Daarom waarsku Paulus,

“Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die GESONDE LEER nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”(2 Timoteus 4:1-4).

Fabels is storietjies wat jyself in jou verbeeldingryke gedagtes fabriseer om kamtige geestelike waarhede oor te de dra wat nie met die Skrif harmoniseer nie. Die leerstellingNie lerings en doktrines nie…. JESUS die MAS” is beslis een van hierdie fabels.

For more articles on Riekert Botha here:

Please share:

Tom Lessing (Discerning the World)

Tom Lessing is the author of the above article. Discerning the World is an internet Christian Ministry based in Johannesburg South Africa. Tom Lessing and Deborah Ellish both own Discerning the World. For more information see the About this Website page below the comments section.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *