Moenie mense se ore pap praat nie.

In een van sy nuutste Ekerk artikels beveel Stephan Joubert predikers om mense se ore nie pap te preek nie. Hy sê onder andere “Ons dwing nie ons opinies op ander af nie, ook al meen ons dit kom van die Here af.” Nogtans gebruik Joubert die baie sterk opdragwoord “MOENIE” soos wanneer jy vir ‘n kind sou sê “MOENIE” om sy nederige reëling om nie sy opinies op ander af te druk nie, te beklemtoon. U kan sy artikel hier lees.

Pap-Bepreekte Ore

Ore plat praat

Daar’s nogal ’n eienaardige ooreenkoms tussen Paulus en Stephan Joubert sover dit preek aangaan. Soos Joubert, wat in alle opsigte ‘n ware heer is en nooit sy gehoor se ore pap wil preek nie, en mense gewoonlik eers vooraf vra hoe lank hy moet preek, het Paulus iemand eendag so wrintiewaar tot die dood toe “dood gepreek” met een van sy elle lange preke. Gedoriewaar? Wel, nie eintlik nie. Maar hier’s die voorval soos Lukas dit in Handelinge opgeteken het.

“En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe. En daar was baie lampe in die bovertrek waar hulle vergader het. En ‘n sekere jongman met die naam van Eútichus het in die venster gesit en weggesink in ‘n diepe slaap; en toe Paulus nog lank gespreek het, is hy oorweldig deur die slaap en het van die derde verdieping afgeval en is dood opgetel. Toe gaan Paulus ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom. En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog ‘n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek.” (Handelinge 20:7-11).

Het Paulus sy gehoor vooraf gevra hoe lank sy preek moes duur sodat die Heilige Gees sy geïnspireerde preek kon kortknip indien hy sy tyd sou oorskry? Nee, selfs nie eens die dood en opstanding van Eútichus het Paulus daarvan weerhou om tot dagbreek te preek nie. Ek wonder hoe Joubert en Paulus oor die weg sou kom ten aansien van sy menings dat “As party mense ’n spreekbeurt het, dan bly hulle nie stil nie. Predikers (soos Paulus, volgens Stephan Joubert) is groot oortreders hier.

“Pappa preek my ore pap!”

“Toe my kinders nog klein was,” skryf Joubert, “het een van my dogters op ‘n dag vir my gesê: ‘Pappa preek my ore pap.’ Daardie een enkele sin het my diep laat nadink oor my preekstyl en my praatstyl. In Psalm 141:3 se woorde het dit my gedwing om elke dag ’n wag voor my mond aan te stel.”

Die Woord van God bly darem maar ‘n wonderlike Boek, mits jy dit natuurlik NIE soos Stephan Joubert deurlees nie en boonop dwars-in daartéén na jou kinders luister vir geestlike raad en insigte. Dink daaraan, dit het reeds honderde en selfs duisende jare gelede voorspel wat die hedendaagse profete van virtuele kerke soos Ekerk in hulle gereelde artikels op die Internet sal skryf.

Een van die belangrikste voorspellings in die Bybel is in 2 Timoteus 4:1-4 waar Paulus die volgende sê, “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees [hulle ore nie pap bepreek wil hê nie], vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

Let noukeurig op hoe Paulus sy taalgebruik formuleer om die erns van die saak te beklemtoon. Hy sê “Ek besweer jou voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk . . . .” Die woord “diamarturomai” (besweer) is baie sterker as om net te sê “Ek beveel jou.” Om die gewigtigheid van die saak te beklemtoon, roep Paulus God die Vader en die Here Jesus Christus wat die lewende en die dode by sy Wederkoms en die koms van sy koninkryk op aarde sal oordeel, as sy getuies. Kyk, sê hy, God se regverdige oordele is op hande en daarom moet julle die Woord tydig en ontydig verkondig om dwaalleraars en hulle leringe te weerlê, en elkeen wat weier om hom van valse leerstellings te bekeer te bestraf en die vermaan.

Nee, nee, sê Stephan Joubert, “die Here het vir ons twee ore en een mond gegee. Ons moet dus twee keer soveel luister as wat ons praat. Ons woorde moet soos fyn silwer wees, nie soos druppende water op ’n sinkdak nie. Ons hoef nie ’n mening oor alles te hê nie. Ons hoef nie met almal te verskil, of elke keer die laaste sê te hê nie.” Om twee keer soveel te kan luister, sal jy die ander ou met wie jy ‘n gesprek voer twee keer soveel meer kans moet gee om te praat. Hoe nou gemaak?

Hoe kan jy twee keer soveel luister as jou gespreksgenoot nie twee keer soveel praat nie? Terwyl jyself jou goue reël nakom, is jy besig om die ander ou die kans te gee om jou eie goue reël te oortree. Trouens. Joubert doen dit so gereeld soos klokslag wanneer hy preek. Hy praat van 30 tot 50 minute aanmekaar sonder om enigeen ‘n kans te gee om iets terug te sê, en selfs wanneer jy dit durf waag om op sy virtuele Ekerk iets te skryf, maak hy jou summier stil deur jou “comments” te verwyder.

Joubert se uitspraak, “Ons hoef nie met almal te verskil, of elke keer die laaste sê te hê nie” is darem so onbybels soos kan kom, veral ten aansien van wat Paulus in Filippense 2:2 skryf, ” . . . maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin (“to be of the same mind”). Hoe kan ons eensgesind, een van siel en een van sin wees wanneer ons nie eers kan ooreenkom dat God se Woord die laaste sê het nie, juis omdat die meeste sg. Christene van vandag die gesonde leer nie meer verdra nie?

Soos Joubert, beskuldig hulle jou heel gou dat jy meen iets kom van die Here af. Jy kan vir hulle woord vir woord skrifgedeeltes aanhaal en dan sonder enige sweempie van skaamte vir jou sê dat dit maar net jou persoonlike opinie is. So saai hulle twyfel in mense te harte, presies net soos die duiwel toe hy vir Eva gevra het, “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” M.a.w. is jy seker God het dit gesê? Is dit nie maar net jou opinie, eie mening of verbeelding nie?

Een van die dinge wat ek die meeste haat, is die doelbewuste verdraaiing van die Skrif om jou eie ideetjies te rugsteun. Dit is net Joubert wat dit regkry om twee skrifgedeeltes wat nie naastenby enige verband hou nie, bymekaar te sit om sy anti-Bybelse leringe te bevorder.

Psalm 12:7 verwys nie na “ons woorde” wat kwansuis soos fyn silwer moet wees nie, maar na God se Woord sigself wat soos silwer in die smeltkroes van die aarde sewe maal gelouter is. As sodanig beteken dit dat ons God se sewe maal gelouterde Woord (d.w.s. volmaakte Woord) tydig en ontydig moet verkondig (en nie ons eie woorde nie) om dwaalleraars te waarsku.

Om nog meer gewig te verleen aan sy verdraaiing van die Woord verwys Joubert in dieselfde asem na die gekyf van ’n vrou wie se twisgierigheid soos ‘n stortvloed reën op ’n sinkdak neerkom (Spreuke 19:13; 27:15). As ons dwaalleraars nie soos wagters op die muur waarsku teen die komende oordele van God nie, gaan God hulle bloed van ons hande eis. (Esegiël 33:1-9; Handelinge 20:26-27). Die weerlegging, bestraffing, vermaning in alle lankmoedigheid en lering” kan beslis nie vergelyk word met ’n twisgierige vrou se aanhoudende gekyf  nie. Om dit te doen, is oneerlik en goddeloos.

Kinder-Ingeskerpte Ouers, pleks van Ouer-Ingeskerpte Kinders

Die opdrag om die Woord tydig en ontydig te verkondig in 2 Timoteus 4 herinner baie sterk aan Deuteronomium 6 waar God Moses beveel, “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor SPREEK as jy in jou huis SIT en as jy OP PAD IS en as jy GAAN LÊ en as jy OPSTAAN.” (Deuteronomium 6:6-7). Maar, o wee, gedoriewaar, Stephan Joubert is slimmer en wyser as God en Paulus gesamentlik, en luister eerder na die “wyse” woorde van ‘n Amerikaanse politikus, William Jennings Bryan, die Sophiaanse wysheid van een van sy dogtertjies wat hom gewaarsku het “Pappa preek my ore pap,” en sy geestelike lewensmaat, Leonard Sweet, wat met die wysheid van die slang verklaar, “Om te gaan sit, kan net so kragtig wees as om te staan.”

Om Leonard Sweet se kriptiese “wysheid” te verstaan, is dit nodig om te verduidelik dat “gaan sit” in die mistieke kontemplatiewe wêreld beteken om stil te bly of stil te word met die doel om jou rasionele denke met intuïtiewe gewaarwordinge of ervarings by wyse van meditasie tegnieke of oefeninge (veral dié van Ignatius of Loyola) te onderdruk en geheel en al uit te skakel. Vandaar dat die  woord “stilte” (“quiteness;” “silence”) sinoniem geword het met die hunkering of soeke na heelheid (“quest for wholeness”).

Johan Geyser van die Mosaïek Kerk het ter verkryging van sy Doktoraat aan die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland (dieselfde Universiteit waar Stephan Joubert op verskillende vlakke met hulle spiritualiteit betrokke is) ’n proefskrif geskryf met die titel “A MODEL FOR THE ACCOMPANIMENT OF SEEKERS WITH A CHRISTIAN BACKGROUND INTO SILENCE IN THEIR QUEST FOR WHOLENESS.”

Ek moet erken ek was nie juis verbaas gewees om te sien dat hy “Jesus Christus” net een maal (JA, NET EEN KEER IN ‘N PROEFSKRIF VAN 201 BLADSYE) noem nie, en dit alleenlik in die konteks van Ignatius of Loyola se meditasie tegnieke. Die res van sy verwysings na “Jesus” (sewe in totaal), is telkens in die konteks van ’n tipe Oosterse mantra wat jou kwansuis help om jouself te vind of te ontdek. Op bladsy 198 onder die opskrif “BYLAAG C: ‘N TRANSKRIPSIE VAN ‘N ONDERHOUD MET ‘N SOEKER WAT AS TIPIES BESKRYF KAN WORD”vra Geyser die vraag “WAT IS JOU PERSOONLIKE ERVARING VAN STILTE?” waarop die respondent o.a. soos volg geantwoord het.

Ek dink dit is ’n praktyk wat ‘n mens gereeld moet doen . . . , elke dag. My leermeester het gesê ek moet probeer om 2 keer vir 20 minute te sit, en dat jy  . . . volgens die Christen tradisie, . . .  vir jou ‘n plek kry, jy moet ‘n tyd kry en dan doen jy dit en gaan dit gewoonlik gepaard eers met ‘n verstillings proses deur met God te praat en na Sy woord ook te luister.

So, my eerste stap is om die Here uit te nooi, Hom te vra om my te lei, teenwoordig te wees. Ek lees Sy woord, en peins dan die woord. Volgens die tradisie van Lectio Devina is daar ORATIO: praat met God; LECTIO: dit is die lees en luister na God; en dan is daar die MEDITATIO waar ek net die woord gebruik om te fokus. Dit alleen bring oombliklik ‘n groter mate van stilte in ’n mens mee as jy gefokus is.

Jy sit nie meer met jou monkey mind wat rond hardloop nie, maar jy is nog [nie] stil nie. Jy is besig om nou te fokus deur te mediteer en spesifiek te dink oor die skrif, en ek dink 2 maniere van meditasie is veral in die tradisie van Ignatius, wat hy CONTEMPLATIO genoem het, deur jou in te dink die situasie in en self in omgang te gaan met die karakters van die storie waaroor jy dink uit te lewe van Jesus. [Tom Lessing: Hierdie omgang met die karakters van die storie, sy dit Jesus Christus, Moeder Maria, die dissipels of ou kerkvaders, is niks anders as visualisasie nie en een van die kragtigste okkulte tegnieke wat daar is.).

Maar dan is daar ook net die vrae, die wat, die hoekom, wat beteken dit vir my, hoe werk dit in my lewe, wat is hier aan die gang, vra wat jou net help om insig te kry die spesifieke teks wat jy gelees het. Maar uiteindelik gaan dit en is dit ‘n proses om jou na plek toe te bring van kontemplasie waar jy uiteindelik ook al jou gedagtes laat gaan en alles waaraan jy vashou laat gaan.

Dit lyk vir my of die 2 groot maniere in die geskiedenis die Jesus gebed is, of die gebruikmaking veral volgens The cloud of the unknowing, van ‘n gebeds woord. Die Jesus gebed is ‘n gebed wat amper soos ‘n mantra, ‘n kort gebed, aan mekaar herhaal word en uiteindelik raak die gebed ook nie meer nodig wanneer daar rus en vrede en stilte in jou kop is nie. emosies te voel bring mee dat daai emosies verwerk word en mee gedeel word op ‘n manier dit te erken, so ek dink daar is heel ander emosionele, sosiale, fisiese goed wat gebeur en wat voordelig is vir mens om in stilte te sit, wat ek beleef en wat ek ervaar, maar, vir my is die grootste dalk die beweging wat daar is na self toe en na God toe.

Die ou mistici het geglo dat as jy by jou ware self uitkom dan kom jy by God uit, en as jy by God uitkom dan kom jy by jou ware self uit. En [dat] dit eintlik diep onderskei kan word maar nie diep geskei kan word van mekaar af nie. So, en dit is hoekom dit dalk vir my so belangrik is om stilte te beoefen. (Klem bygevoeg).

Dit is duidelik dat die respondent een doel voor oë gehad het in die beoefening van stilte, naamlik om te ontdek dat sy “ware self” soos dit in die Boeddhisme bekend staan, eintlik maar God is.

Na ’n redelike vinnige en maklike soeke (nie na “wholeness” nie) maar na belangrike kernwoorde wat veronderstel is om in ‘n doktorale tesis van hierdie aard oor heelheid (“wholeness”) te verskyn, is daar ’n tragiese gebrek van hierdie woorde:-

  • “Jesus Christus”: word slegs 8 keer genoem in die konteks van ’n mantra.
  • “Sonde”: word slegs 1 keer genoem.
  • “Redding; verlossing: word net twee keer genoem.
  • “Ervaring”: word nie minder nie as 313 keer genoem. Dit opsigself is voldoende bewys dat diegene wat op soek is na “heelheid” (“wholeness”) hulle vertroue (geloof) in hulle meditatief gegenereerde ervarings plaas en nie in God nie. God (en veral sy Naam en uittreksels uit sy Woord, Lectio Divina) is vir hulle maar net die metode, tegniek, oefening, voertuig, hulpmiddel waarmee hulle hul euforiese ervarings van stilte (algehele oorgawe van hulle rasionele denke) bereik. Soos die respondent ook tereg sê, wanneer hierdie irrasionele, euforiese toestand bereik word, is dit nie meer nodig om te bid nie wanneer daar stilte en kalmte in jou kop is. Dit is dan wanneer jou intuïtiewe verbeelding (“imagination”) inskop en jyself ‘n driekte ervaringsbewuste omgang met die karakters in jou oomblikke van stilte ondervind.  Kevin O’Brien skryf in sy boek, “The Iganatian Adventure,”

Die Ignatius kontemplasie is veral geskik vir die Evangelies. In die Tweede Week van die Oefeninge, vergesel ons Jesus deur sy lewe op ‘n verbeeldingstog van tonele uit die Evangeliestories. Laat die gebeure van Jesus se lewe vir jou op hierdie einste oomblik teenwoordigheid wees. Visualiseer die gebeurtenis asof jy besig is om ‘n “movie” te maak. Skenk aandag aan die details: besienswaardighede, klanke, smake, geure en gevoelens van die gebeuretenis. Verloor jouself in die storie; moenie bekommerd raak as jou verbeelding met jou weghardloop nie. Plaas jouself op n sekere moment in die toneel.

Die nadenke oor ‘n Evangelietoneel is nie net om dit in herinnering te roep of terug te gaan in tyd nie. Deur die beoefening van kontemplasie, bring die Heilige Gees ‘n misterie van Jesus se lewe in die onmiddellike teenwoordigheid op ‘n wyse wat vir jou nou betekenisvol is. Gebruik jou verbeelding om dieper in die storie te delf sodat God op ‘n persoonlik en beeldende manier met jou kan kommunikeer. (Uit die Engels vertaal deur Tom Lessing).

Nou kan ons ook beter verstaan waarom Stephan Joubert die Boek Openbaring vanuit ‘n kontemplatiewe perspektief deurlees en nie as toekomsvoorspellings nie. Hy is uitverkoop aan Loyola se verbeeldingryke togte in die nou (teenswoordige tyd) en gebruik selfs dieselfde terminologie soos “storie” (“verhaal”) wanneer hy na die Evangelies verwys.

You need an imaginary world. Don’t you think that if you start reading the book of Revelation, not as the book of little prophecies that you can pick out with a little tweezer, but as the story that will open up your imagination, what will happen? We need imagination if we want to understand. Use it well. God gave it to you.”

Geyser skryf

Die Ignatius kontemplasie van ’n evangelie storie is ’n voorbeeld van konsentratiewe meditasie. In die ortodokse Christenskap, is die eerste stap tot hesychia, d.w.s. stilheid van gedagtes, die herhaling van die Jesus gebed: “Here Jesus, wees my genadig.” Die ritme van die gebed het saamgeval met die ritme van jou asemhaling. Die resultaat van hierdie praktyk was ’n kalm hart en gemoed.

Geen outeur wat al sy varkies nog bymekaar het, sal ’n boek oor hartoorplantings skryf en nie ’n enkele keer Chris Barnard se naam noem nie, of net ’n paar keer na sy naam verwys, nie in die konteks van hart sjirurgie nie maar as motorwerktuigkundige. Dit toon dat Jesus Christus se woorde in Johannes 15:5 “want sonder my kan julle niks doen nie” net mooi niks vir Johan Geyser, Stephan Joubert en Jan van der Watt, beteken nie (wie hy innig bedank vir hulle bydraes in die navorsing van sy Christus-lose doktorale proefskrif).

Johannes 15:5 sê meer as net dat ons niks sonder Jesus kan doen nie; dit sê ook dat alles wat ons sonder Hom probeer doen, net mooi niks beteken nie. Dus is Johannes Barend Geyser se 201 bladsy-lange doktorale proefskrif van nul en gener waarde omdat hy Hom, sonder wie ons niks kan doen nie, so gering ag dat hy Hom amper nooit in sy tesis noem nie, altans nie as die Groot Heler en Geneser van ons siele nie.

Heelheid (“wholeness”) is ’n geestelike prinsiep en kan alleenlik deur Jesus Christus versorg word. Geen tegniek, liturgiese gebruike, meditasie gewoontes, stiltes, kluisenaar gemaakte afsonderings, ikone, en kerse kan heelheid in gees, siel en liggaam bewerk nie. Trouens, die Woord van God sê pertinent, “Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op. Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!” (Jesaja 57:20-21).

Dit is dan ook die hoofrede waarom die kontemplatiewe beoefenaars in die ritme moet kom om daagliks ten minste twee keer kontemplatiewe stiltes te beoefen om hulle sg. rus en vrede en stilte in hulle koppe te handhaaf, anders is hulle alles kwyt en moet hulle maar weer en weer dieselfde sg. Loyola-oefeninge van vooraf doen. Dit is dus ’n eindelose gesug, en ‘n gesoek en ’n hunkering na heelheid wat op die ou ent nooit bereik word nie (Matteus 7:13-14).Vergelyk hierdie soort kontemplatiewe vrede- en stilte oefeninge met die vrede wat Jesus Christus almal gee wat waarlik tot bekering gekom (gered is).

“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” (Johannes 14:27).

“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” (Filippense 4:6-7).

Ware vrede, kalmte, en ‘n stil gemoed is ’n Persoon, nie ’n tegniek waarmee ek my ware self moet vind of in aanraking mee moet kom om te ontdek dat God en my ware self een en dieselfde is nie. Laasgenoemde is een van die sterkste okkultiese metodes denkbaar om jou vir demoniese invloede en leerstellings oop te stel. (1 Timoteus 4:1). God se vrede is ’n gawe wat Hy by wedergeboorte aan sy kinders gee. Die res (ongelowiges en valse leraars wat die skaapkraal op ander maniere as deur die Deur of Hek wil binnegaan) sal en kan geen vrede hê nie, tensy hulle hul bekeer van hulle demoniese praktyke van stilte, Lectio Divina, labirinte, kontemplatiewe meditasie, Loyola geestelike oefeninge ens., ens.

Dis ‘n skreiende skande dat Stephan Joubert telkens in die openbaar erken dat hy Johannes 14:6 heelhartig glo, maar terselfdertyd bereid is om ’n God-onterende doktorale proefskrif soos hierdie goed te keur. Dit is hartseer-pateties, om die minste daarvan te sê.

Verwronge Skrifuitleg vir ore wat juk

Stephan Joubert vermaan sy lesers en kykers voortdurend om die Woord van God deur te lees om ‘n korrekte uitleg daarvan te verseker en nie net selfgekose verse uit te lig om hulle eie agendas te pas en te bevorder nie. Dit is beslis goeie raad maar, o wee, Joubert gee self nie gehoor daaraan nie. Psalm 141:3 waarna hy verwys om mense aan te moedig om nie ander se ore pap te preek en hulle eie opinies op ander af te dwing nie, beteken hoegenaamd nie dat jy jou mond moet hou wanneer dit nodig is om dwaalleringe aan te spreek nie. Trouens, Koning Dawid verwelkom die tugtiging, vermaning en teregwysing van die regverdiges want dit het hom gehelp om te  groei tot geestelike volwassenheid. (2 Timoteus 3:16). Die Amplified Bible stel dit so:

“Let the righteous [thoughtfully] strike (correct) me—it is a kindness [done to encourage my spiritual maturity].
It is [the choicest anointing] oil on the head;
Let my head not refuse [to accept and acknowledge and learn from] it;

For still my prayer is against their wicked deeds.” (Psalm 143:5).

So praat iemand wat werklik hunker na geestelike heelheid (“wholeness”) en nie soos Joubert en sy “buddies” wat soos kinders voortdurend deur die bedrieëry van mense, deur sluheid en listigheid tot dwaling gebring, en soos golwe heen en weer voortgedryf word deur elke wind van lering nie. (Efesiërs 4:14). Joubert se deurlees filosofie werk blykbaar nie vir hom nie omdat hy self nie doen wat hy preek nie.

Joubert skryf:

Deur die jare het ek geleer om by elke plek waar ek moet praat vir mense te vra hoe lank moet ek aan die woord wees. Dan respekteer ek die gehoor deur by hierdie tyd te hou wat aan my toegestaan is. In gesprekke probeer ek myself ook gedurig afvra of my woorde opbouend gaan wees, soos wat Spreuke my leer. Dan probeer ek om my woorde hierby aan te pas.

Ons is nie veronderstel om mense se ore pap te praat nie. Ons dwing nie ons opinies op ander af nie, ook al meen ons dit kom van die Here af. In 1 Korintiërs 14 sê Paulus juis ‘n paar keer vir mense om stil te bly tydens samekomste van gelowiges.

Joubert verwys dikwels sommer so in die vinnige verbygaan na skrifgedeeltes sonder om hulle in konteks met die res van die hoofstuk waarin hulle voorkom, uit te lê. Gewoonlik is sulke tipe verwysings beplande foefies om die temas van sy preke te ondersteun. In hierdie spesifieke geval verwys hy sommer so bolangs na 1 Korintiërs 14 om sy Magna Carta van “Moenie mense se ore pap praat (preek) nie” te bevestig. Paulus sê hoegenaamd nie naastenby dat gelowiges moet stilbly tydens hulle byeenkomste nie. Hy noem net twee gevalle waartydens gelowiges moes swyg.

  1. Wanneer hulle op ’n onordelike manier gelyktydig in tale gepraat het sonder dat iemand die tale uitgelê het. (1 Korintiërs 14:27-28).
  2. Vrouens moes in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. (1 Korintiërs 14:34).

Net drie verse later, in vers 37, sê Paulus dat enigiemand wat nie met hom saamstem oor hierdie twee verbode gevalle nie, geestelik onvolwasse is. Hy sê nie soos Joubert dat dit maar net sy eie opinie is nie.

As iemand meen dat hy ‘n profeet of ‘n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is. Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly. (1 Korintiërs 14:37-38).

Soos u kan sien, maak Joubert glad nie melding van hierdie twee reëls in die gemeentes nie. Hy, soos reeds gesê, verwys oppervlakkig na ‘n algemene oplegging van swygsaamheid om sy Magna Carta van “Moenie mense se ore pap praat (preek) nie” te onderskryf. Hoekom noem Joubert byvoorbeeld nie dat vers 37 pertinent opdrag gee dat vrouens in die gemeentes moet swyg nie? Hy durf nie waag om dit te noem nie omdat hy gereeld in Mosaïek Kerk preek waar ook vrouens toegelaat word om te preek. Dit beteken nie dat vrouens niks in ’n gemeente mag praat of sê nie. Dit beteken net dat vrouens nie in leierskapposisies as predikante mag optree of preek nie.

Indien Paulus, soos Joubert sê, “juis ‘n paar keer vir mense in die algemeen opdrag gegee het om stil te bly tydens samekomste van gelowiges,” sou Paulus homself heftig weerspreek het waar hy skryf, verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” (2 Timoteus 4:1-4). M.a.w. MOENIE STIL BLY NIE. PRAAT DIE WAARHEID IN CHRISTUS MET LIEFDE, HARD EN DUIDELIK, want daar kom ’n tyd (en dit is reeds hier) wanneer hulle die gesonde leer van God se Woord nie meer sal verdra nie. Hulle maak eerder staat op hulle eie vervloekte “imaginations” en Iganatius of Loyola se kontemplatiewe towerye.

Joubert se “pap-geprate (gepreekte) ore” artikel bewys maar net weer eens dat God se profesieë altyd 100% korrek is omdat dit honderde jare gelede reeds voorspel het dat virtuele internet kerke soos Ekerk sulke onbesonne dinge sou skrywe om mense te mislei.

Slot

Die frase “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor” kom 17 keer in die Bybel voor, waarvan die meeste in die Nuwe Testament verskyn. Dis so bietjie van ’n enigma om te sê “Wie ore het . . .” terwyl ons tog weet dat alle mense ore het wat kan hoor, tensy hulle natuurlik fisies stokdoof is. Ja beslis, ons almal het ore, maar nie almal het ore wat hoor nie. Dit is uiters gevaarlik om God se gesonde leerstellings hardnekkig te weerstaan en die welmenende weerleggings, bestraffings en vermanings van ander te verontagsaam. So het die volk Israel se wederstrewigheid uiteindelik aanleiding gegee tot hulle geestelike doofheid, tot vandag toe.

Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe. En Dawid sê: Laat hulle tafel vir hulle wees ‘n vangnet en ‘n strik en ‘n struikelblok en ‘n vergelding. Laat hulle oë duister word om nie te sien nie, en buig hulle rug vir altyd krom.” (Romeine 11:8-10).

Stephan Joubert is lief om te sê God is klaar met Israel en dat die twaalf stamme nie meer bestaan nie. Die nie-Joodse (heidense) nasies, en veral ook die kerke, is besig om presies dieselfde sondes te doen wat Israel  destyds gepleeg het – GEESTELIKE TOWERY EN HOERERY, net op ‘n baie subtieler manier by wyse van hulle kontemplatiewe spirituele praktyke. .

Mag die Here hulle genadig wees en hulle derduiwelse verduisterde oë en ore oopmaak voordat dit te laat is. U kan deel 2 van die reeks “Stephan Joubert se deurlees van die Boek Openbaring in Koronatyd Herbesoek” op bladsy 2 van hierdie artikel kyk. As inleiding herinnier ek u aan wat Ds. Johan Smith in Mosaïek Kerk gesê het.

Sien ook: Stephan Joubert se Deurlees van die Boek Openbaring in Koronatyd Herbesoek – Deel 1

Please share:

Tom Lessing (Discerning the World)

Tom Lessing is the author of the above article. Discerning the World is an internet Christian Ministry based in Johannesburg South Africa. Tom Lessing and Deborah Ellish both own Discerning the World. For more information see the About this Website page below the comments section.

guest
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x