Riekert Botha – VitaDei Vrymesselary?

Vita-Dei-emblem - Vrymesselary

Inleiding

VitaDei Vrymesselary – Ter inleiding wil ek ons lesers eers graag daarop wys dat, soos in enige ander mistieke filosofie of sisteem, godsdiens of beweging, die sg. Pelgrimsreis of Pelgrimstog (“journey”) wat elkeen in die mistieke domein onderneem in hul soeke na heelheid (“wholeness”) en uiteindelik verligting (“enlightenment”) so oud is soos die berge. Dit gaan so ver terug as die antieke Griekse “Eleusinian Mysteries” wat deesdae in ons era ’n Christelike lagie of fineer van vernis toegedien word om darem die skyn van Christelikheid te bewaar. Dit kom voor in kerke wat kontemplatiewe mistisisme beoefen en in bewegings soos die Vrymesselary. Die sleutel tot ’n suksesvolle pelgrimsreis is geborge in die verborgene (geheimenisse, okkulte en veral ook inisiasie rituele.).

Die volgende uittreksel kom uit THE MASONIC INITIATION TO ALL BUILDERS IN THE SPIRIT van W. L. WILMSHURST

Laat die leser reflekteer dat [die] Vrymesselaar se “arbeid” [doelstelling] die heelmaking en vervolmaking van sy wese insluit: dat dit ten doel het om “die sirkel daarvan te voltooi.” Sy volledige wese word, in geometriese terme met ’n sirkel vergelyk — die simbool van heelheid, geheelheid, en self-omvattendheid.

Maar, laat hom onthou,, terwyl hy bewus is dat hy nou, op hede, nie ’n [volledige] sirkel is nie, dat hy ’n vierkant is, wat maar net die vierde deel (een kwart) van ’n sirkel is. Waar is die ander drie kwarte van homself? — want eers wanneer hy hierdie sowel as die vierde deel wat hy tans nie weet wat dit is nie, [ontdek] kan hy nooit die sirkel van sy wese vervolmaak nie, dit is, hy sal nie weet wie hy werklik is nie.

Dit is die stadium wanneer Vrymesselary [die] mistiese geometrie betree, die belangrike wetenskap wat, soos Plato bevestig het, niemand die Akademie waar ware filosofie en ontologie geleer word, moet aandurf nie tensy hy reeds deeglik in daardie wetenskap (sakrale geometrie) onderlê is.

Want, in vorige tye, was hierdie dieper probleme van wese [ontologie] die onderwerp van geometriese uitdrukking, en eggo’s van die wetenskap wat vir ons behoue gebly het in ons gebruik van winkelhake, driehoeke, en sirkels, en veral in die 47ste probleem van die eerste boek van Euclid, wat tans die kenmerkende embleem is van hulle wat die Meesterskap verwerf het.

‘n Mens wonder hoeveel van hulle wat nou hierdie embleem dra, enigsins besef wat dit beteken? Dit is ‘n wiskundige simbool wat, vir diegene wat dit kan lees, die hoogste trap van menslike prestasie uitbeeld, in die wetenskap van die rekonstruering [of herstel] van die mens se siel tot die Goddelike Beeld vanwaar dit geval het.

Geen wonder nie dat die groot Geïnisieerde wat die simbool ontwerp het met ‘n ekstatiese emosie van blydskap so oorstelp was [van vreugde], toe hy besef het wat dit vir sy eie menswees geïmpliseer, uitgebeeld en gedemonstreer het, dat hy op daardie jubelende oomblik “’n hekatombe van osse geoffer het” —  ’n uitdrukking waarvan die betekenis daarvan, soos die simbool self, aan die leser se eie refleksie oorgelaat moet word, want hierdie sake kan nie summier of oppervlakkig verduidelik word nie.

Pythagoras self, so word vertel, het geweier om die betekenis daarvan aan sy eie leerlinge te verduidelik, alvorens hulle vyf jaar van stilte en meditasie beoefen het. Daardie vyf jaar verteenwoordig vandag nog steeds die periode wat teoreties aan die werk van die Fellow-Craft graad toegeken word, veral met betrekking tot die instruksies wat moderne Vrymesselaars kry om hulleself aan refleksie [meditasie] oor die geheime van die natuur (d.i. sy eie aard of natuur) en die beginsels van intellektuele waarheid te wei, totdat dit met verdrag [die geheime] aan hom [die geïnisieerde] openbaar en hy sy eie affiliasie met die Goddelike herken en erken.

In ’n neutedop, kan gesê word dat die geïnisieerde Vrymesselaar geïnspireer word om met behulp van geometriese simbole — waarvan die sirkel ’n simbool van goddelike volmaaktheid is — immortaliteit na te jaag. In sy boek “Freemasonry: Quest for Immortality” skryf Christopher Earnshaw, ’n 33˚ Vrymesselaar, as volg:

Wat ons vind is dat die Vrymesselaar se Monitor, ’n boek wat al die rituele en seremonies bevat, inderdaad ’n legkaart (“puzzle”)  is. Dit is doelbewus so geskryf om sommige geheime wat ’n ver ryker en belangriker les leer, weg te steek. Elkeen van die drie grade is geskoei op ’n tipe van alchemie wat die Broeder help om die optimum les te verstaan — nl. die les van immortaliteit.

Ek hou daarvan om nuwe Messelaars te vertel dat Vrymesselary nie gaan om die bestemming nie; dit gaan oor die pelgrimstog (“journey” op soek na immortaliteit). (Klem is bygevoeg).

Die “journey” (pelgrimstog), óf in terme van ’n soeke na heelheid (“wholeness”) om van jouself, andere en die wêreld ’n beter plek te maak, óf om die koninkryk van God hier en nou op aarde te vestig, word gereeld in mistieke kringe in mense se koppe ingeprent.

Die Mosaïek Kerk in Fairland, Johannesburg met Johan Geyser, Theo Geyser, Jacques Bornmann, Melissa van Biljon, Stephan Joubert en Trevor Hudson is een van die voorbokke op hierdie pelgrimstog. Hulle het ’n leeue-aandeel in die verspreiding hiervan, en is besig om via KYKNET en ander media duisende mense te mislei.

Hoewel hulle self nie graag met die sg. Ontluikende Kerk (“Emergent Church”) vereenselwig will wees nie, het een van die leidende figure van die “Emergent Church,” Rob Bell, se siening van die hemel nog steeds ’n groot invloed op hulle denke. Hoe anders dan, as almal van hulle is met dieselfde gees deurdronge is. Rob Bell skryf in sy boek, “Love Wins For Teens 2013 bl. 48-49.”

“ . . . vir Jesus was hemel nie ’n veraf geleë plek wat eers relevant word wanneer jy sterwe nie; Hy het die lewe in die hemel as ’n soort lewe beskou wat ons nou reeds kan binnegaan.  Dit is soos wanneer jy aanhoudend sê, “Die partytjie het reeds begin! Jy hoef nie te wag nie. In die Bybel, wanneer hulle praat oor waar ons almal eendag sal wees, het hulle verwys na hierdie wêreld wat reggemaak en heel gemaak en getransformeer sal word na wat dit nog altyd bedoel was om te wees. Nie êrens anders nie, maar hier.

Dus, toe Jesus oor daardie groot dag in die toekoms gepraat het wanneer God die wêreld gaan heel maak, het Hy gepraat van die dag wanneer die hemel en die aarde dieselfde plek sal wees.

Jesus roep dissipels sodat ons kan leer hoe en wat ons moet wees —  sy doel vir ons is om te groei in ’n gesindheid van vrygewigheid en vergewendheid en eerlikheid en moedigheid en waarheid en verantwoordelikheid, sodat namate dit ons lewens oorneem, ons meer en meer en meer in die lewe van die hemel deelneem — NOU!

Die hemel gaan nie oor hoe om hierdie wêreld te ontglip nie, dit gaan oor om ja te sê vir Jesus se uitnodiging om te werk vir ’n beter wêreld.

Rob Bell se aanbieding in 2019 tydens sy “Everything is Spiritual” toer (Stephan Joubert huldig dieselfde nonsens dat alles op aarde heilig is), in die Cleveland se Vrymesselaar Ouditorium in 3615 Euclid Laan (hou hierdie naam in gedagte wanneer u later oor hom lees), sou miskien as bewysstuk kon dien dat hy ’n Vrymesselaar is, maar dit sal heel onvanpas wees, veral ten aansien van die feit dat Vrymesselary ’n hoogs geheime organisasie is. Met ander woorde, wie weet? Nogtans klink alles wat Rob Bell hierbo in sy boek “love Wins” kwytraak baie soos die Lucifer aanbidder en 33˚ Vrymesselaar, Albert Pike, se lofsange oor die huidige wêreld. Hy skryf in “Morals and Dogma.”

Hoewel Vrymesselary nie die plek van religie opeis of na-aap nie, is gebed ’n essensiële deel van ons seremonies. Dit is die uitinge van die siel se hoop op die Absolute en Ewige Intelligensie, die Een Opperste God, wat minagtend en verkeerdelik as ’n “ARGITEK” gekarakteriseer word. Sekere fakulteite van die mens is gerig op die Onbekende — nl. denke, meditasie en gebed. Die onbekende is ’n oseaan waarvan die gewete die kompas is. Denke, meditasie en gebed is die groot misterieuse aanwysings van die naald. Dit is ’n spirituele magnetisme wat die menslike siel met die Godheid verenig. Hierdie majestueuse strale van die siel deurboor die skaduwee na die lig.

Vrymesselary hou hom nie besig met die verkleinering van hierdie wêreld nie, met sy pragtige skoonheid, opwindende skouspel, sy heerlike werke, sy edele en heilige hartstogte; so-ook vermaan dit (Vrymesselary) ons nie om ons harte van hierdie aardse lewe los te maak nie, as iets wat leeg, vlietend, verbygaande en onwaardig is, en (die hartstogte) eerder op die hemel as die enigste sfeer wat die liefde van die geliefdes of die meditasie van die wyses verdien, fokus nie.

Dit leer ons dat die mens hoë verpligtinge het, en ’n hoë bestemming  het om te vervul, op hierdie aarde; dat hierdie wêreld nie maar net ’n poort is na ’n ander nie; en dat hierdie lewe, hoewel nie ons enigste nie, ’n integrale een is, en dié besondere een is waaroor ons ons nou moet bekommer; dat die Teenswoordige ons toneel van aksie is, en dat die Toekoms bedoel is vir spekulasie en vertroue; dat die mens na die aarde gestuur is om daarop te lewe, dit te geniet, om dit te bestudeer, om dit lief te hê, om dit te verfraai, om die meeste daarvan te maak.

Dit is elkeen se land waarop hy sy hartstogte en sy pogings moet uitgiet. Dit is hier waar hy sy invloed moet laat geld. Dit is sy huis en nie ’n tent nie; sy woning en nie maar net ’n skool nie. Hy is na die wêreld gestuur, nie om voortdurend na ’n ander te hunker, van te droom, of vir voor te berei nie; maar om sy plig te doen en sy bestemming op aarde te bereik; om alles te doen wat in sy mag is om dinge te verbeter, om dit te omskep in ’n toneel van verhewe blydskap vir homself en almal rondom hom, ook vir sy nakomelinge. Sy lewe hier is deel van sy immortaliteit; en hierdie wêreld, OOK, is onder die sterre. (Klem is bygevoeg).

Sjoe, g’n wonder die Here het gesê die laaste kerk op aarde, soos dit in die Bybel deur Laodicea uitgebeeld word, sal Hom so intens naar maak dat Hy dit gaan uitspuug. Te oordeel aan die ooreenkomste van die hedendaagse ontluikende kerke met alles wat Albert Pike in sy “Morals and Dogma” kwytraak, is dit amper onmoontlik om nie te beweer nie dat alle kerke een of ander Vrymesselaar kinkel in die kabel het, sy dit simbole, rituele, embleme op kerkgeboue, Kabbala tendense, of koninkryk-nou (Domeinistiese) beginsels is. Ek wil my verstout deur te sê dat die goue draad wat dwarsdeur die hedendaagse en laaste dae se afvalligheid loop, is Vrymesselary. Wat heg die onderskeie teenoor-mekaar-stellende en opponerende kragte aanmekaar? Net een ding — ESOTERIESE SIMBOLIEK.

En dit . . .? Wat maak dit hier?

VitaDei emblem Vrymesselary

Een van ons skoolonderwysers het die gewoonte gehad om wanneer hy ’n klomp kinders op heterdaad met onderduimse dinge soos skelmpies rook betrap het, te vra “En die . . .? Wat maak dít hier?  My gedagtes het weer teruggegaan na daardie dae toe ek Riekert Botha en sy Vita Dei YouTube video’s begin navors het. Ek het soveel op die inhoud van sy video’s gekonsentreer dat ek die embleem/simbool wat op al sy video-inleidings verskyn oor die hoof gesien het, totdat iemand my daadwerklik daarop attent gemaak het. My eerste reaksie was, “En dit . . . wat maak dít hier?”

Danksy die waardevolle inligting wat die persoon aan my verskaf het, kon ek twee en twee bymekaarsit en skynbaar, ek sê doelbewus “skynbaar,” ietsie raaksien wat baie sinister voorkom. Een van die eerste dinge wat my opgeval het, is dat ons altyd bedag moet wees op die simbole wat mense gebruik om hulle produkte te identifiseer, en veral let op die subliminale invloed wat dit op mense se psige kan hê. ’n Vergesogte voorbeeld hiervan is om pleks van die woorde “Nazi-straf- en doodskampe,” die swastika teken of simbool te gebruik

Hooked cross

Die krag van simbole

Die spreuk, “’n Prentjie is meer werd as ’n duisend woorde” beskryf in ’n neutedop die krag van simbole. ’n Artikel, “The Power Behind Symbols in Reality Creating”  van die Hermes Reality Creator” boekreeks, beskryf simboliek as volg.

Simbole is geweldig kragtig en kan besonderse  handige instrumente wees om jou wêreld te skep. Die antieke gemeenskappe het die krag van simbole verstaan en het hulle uitgebreid in hulle kultuur gebruik vir beskerming, vrugbaarheid, rykdom, gewas-ontkieming, en dood en geboorte rituele.

Natuurlik is dit nie die simbool self wat vir ’n spesifieke taak aangewend word wat die gewenste resultate oplewer nie; jou bewussyn [rasioneel of irrasioneel] moet dit doen.

Paulus het die krag van simbole, afgodiese beelde, ikone, en spirituele snuisterye nie aan die mens se bewussynskrag  toegeskryf nie maar aan die werking van demone daaragter – 1 Korintiërs 10: 19-21).

Die skrywer sê voorts,

Nogtans kan ’n simbool wat op ’n spesifieke ding gefokus is jou bewussyn help om op die energiepatrone wat nodig is vir die gewenste manifestasie, in te zoem. Maar, realisties beskou, moet ’n simbool oor ’n baie lang periode en deur baie mense gebruik word om hierdie soort ding te laat werk. Al sou net die antieke mense dit gereeld gebruik het en die moderne mense ophou daarmee, sou dit nie werk nie. Die weg moet min of meer op ’n konstante basis bewandel word, so nie vervaag die energie waarmee daardie  simbool vereenselwig word.

Onthou, hoe meer ’n weg of pad gebruik word, des te meer effektief sal die energie van daardie weg manifesteer. Die kragtigste simbole strek nou al meer as 10,000 jaar agtertoe en vorentoe in tyd en ruimte uit. Vandag is daar baie – nog steeds – antieke simbole wat jy kan gebruik, sowel as ’n paar nuwes wat die gemeenskap deesdae versin.

Een van die oudste simbole wat tot vandag toe in baie kerke en veral in die Roomse en mistiek georiënteerde gemeenskappe gebruik word is die paganistiese labirint wat mense tot vervelens toe loop om kwansuis in die teenwoordigheid van God te kom. Dit is niks anders as afgodery nie.

Sebastian Guerini skryf is sy artikel “Rethinking Image, Identity and Design: The Power of Symbols”

Netsoos die Griekse godin, Medusa, almal wat na haar gekyk het, versteen het, netso het die hedendaagse simbole die mag om almal wat daarna kyk, te transformeer.

Sodra jy geestelike waarhede met behulp van visuele en tasbare dinge (simbole, ikone, beelde, snuisterye) probeer omskryf en verklaar, het jy die essensie van geloof alreeds verwring en eintlik maar met koste verwerp, omdat geloof ’n vaste vertroue is in die dinge waarop ons hoop en die bewys is van die dinge wat ons nie sien nie. (Hebreërs 11:1). Die simbool as sodanig word dan die objek van geloof en vervang uiteindelik die persoon of ding wat dit kwansuis verteenwoordig. Daarom beteken die dra van ‘n kruis (waarvan sommiges verguld is en met edelgesteentes versier is) net mooi niks nie. Die satansaanbidders in die vermaaklikheidswêreld dra gereeld kruise.

  • Elton-John-wearing-cross
  • George-Michael-wearing-cross
  • Jay-Z-wearing-cross
  • lady-gaga-wearing-crosses
  • Madonna-wearin-cross
  • Ozzy-Osborne
  • Ozzy-Osborne2-waerin-cross
  • Steven-Tyler-wearing-cross

Jordan Maxwell, ’n bekende navorser en kenner op die gebied van die okkulte en veral die Vrymesselary, sê in ’n YouTube video “dat die doel van simbole is om die onderbewussyn te manipuleer. Dit is waarom daar simbole is, omdat simbole iets vertel en hulle praat met jou.

Simboliek in Vrymesselary

Terstond is dit altyd die regte ding om die idees, opinies, waarnemings, en geskrifte van die leiersfigure verbonde aan bekende instansies, institute, en gelowe die binnevet van die boud te gee deur hulle woordeliks aan te haal. Maar, selfs dan ontaard dit gewoonlik in ’n futiele oefening wanneer hulle jou die ou-ou beskuldiging toeslinger dat jy hulle buite konteks aanhaal. Dis maar ’n ou laai van hulle.

Hoe dit ook al sy, regstreekse aanhalings uit Albert Mackey se boek “The Symbolism of Freemasonry: Illustrating and Explaining Its Science and Philosophy, its Legends, Myths and Symbols” toon sonder enige twyfel waarop Riekert Botha en ’n magdom ander pastore, predikante en ander kerklui hulle godsdiens skoei — nl. Vrymesselary. Hier volg ’n paar aanhalings uit Mackey se boek oor die esoteriese betekenis van simbole in Vrymesselary.

Van die verskillende modes om opdragte aan die oningeligtes oor te dra, is daar veral twee waarin die Vrymesselaar student belangstel; naamlik, die instruksie by wyse van legendes en deur simbole. Dit is uitsluitlik aan hierdie twee waaraan hy sy kennis te danke het, en alles wat hy oor die filosofiese sisteem wat in die instituut geleer word, kan weet. Alle verborgenhede en dogmas wat in die filosofie daarvan opgesluit lê, word deur kommunikasie aan die neofiet toevertrou, soms net aan een, somtyds aan die ander van hierdie twee metodes van instruksie, en somtyds aan albei tegelyk. Die Vrymesselaar het hoegenaamd geen ander manier tot sy beskikking om enige van die esoteriese leringe van die Orde te bereik nie, behalwe deur a legende of ’n simbool.

Nou is dit soveel makliker om te begryp waarom Riekert Botha ’n enorme groot simbool, genaamd “Saad van die Lewe” pleks van net die eenvoudige Bybelse teks (Johannes 1:4-5) te gebruik om die Vrymesselaars konsep van lig en lewe te beklemtoon, en nie die ware Bybelse begrip daarvan nie. Is die Bybelvers (Johannes 1:4-5) dan nie opsigself voldoende om God se waarheid oor te dra nie. Moontlik dink Riekert Botha nie so nie en stem dus saam met Mackey dat “Die Vrymesselaar het hoegenaamd geen ander manier tot sy beskikking om enige van die esoteriese leringe van die Orde te bereik nie, behalwe deur a legende of ’n simbool.”

Mackey verklaar voorts:

Geen wetenskap is ouer as dié van die simboliek nie. Op ’n tydstip was byna al die leringe van die wêreld deur simbole oorgedra. En, hoewel die moderne filosofie deesdae net met abstrakte proposisies werk, kleef die Vrymesselaar nog steeds aan die antieke metode, en het dit in sy oorspronklike vorm bewaar om kennis oor te dra.

Die studie van Vrymesselaar simboliek is die enigste manier om die filosofie daarvan na te vors. Dit is die enigste poort van sy tempel, waardeur ons toegang het na die sacellum waar die Aporrheta verskuil is.

The  Century Dictionary definieer die sacellum as ’n klein afgesonderde spasie sonder ’n dak wat aan een of ander afgod gewy is, met ’n altaar en ’n beeld van die afgod wat daarbinne staan gemaak is. Die Aporrheta wat uit die Grieke mitologie kom, was die heilige dinge waarmee diegene wat begerig was om in die Eulisiese verborgenhede ingewy te word, vertroud gemaak is. Dit was deels simbole van die seëninge van die Eulisiese gode, en deels die oorblyfsels van kunswerke wat die kandidate [met groot ontsag] kon aanraak en soen. Dit klink nogal bekend, nie waar nie? Die Roomse Kerk is vrot van hierdie tipe afgodiese aanbidding.

Mackey sê voorts,

Die filosofie [van Vrymesselary] het te make met die [langsame] oorweging van proposisies met betrekking tot God en die mens, die teenswoordige en die toekomstige lewe. Die wetenskap [empiriese waarneming] daarvan is die simboliek sigself waarmee hierdie proposisies in die gemoed [verstand] vasgelê word.

Dit kom daarop neer dat Bybel-gefundeerde proposisies (leerstellings, doktrines) oor God en die mens, die teenswoordige en toekomstige lewe, alleenlik deur ’n langsame proses met behulp van simbole reg verstaan kan word. Is dit nie miskien die rede waarom Riekert Botha die “Saad van die Lewe” simbool gebruik om Johannes 1:4-5 met behulp van die Vrymesselaar filosofie in tandem met hul simbolies gefundeerde wetenskap in mense se koppe in te prent nie? Dat hierdie bewussyn-manipulasie skynbaar suksesvol is, is nie te versmaai nie, veral as ’n mens in aanmerking neem dat hy sy YouTube gehoor (hoofsaaklik vrouens) so maklik beïnvloed met sy weergawe van die eindtyd (eskatologie).

En laaste, maar nie die minste verklaar Albert Mackey,

Baie, indien nie almal nie, van die hedendaagse Vrymesselaar simbole kan alleenlik volkome begryp en behoorlik waardeer word in die lig van sonaanbidding.

Vandaar kom dan ook die vergeestelikte, sakrale geometrie van die sirkel en al die ander simbole wat daarin vergestalt word, as die liggewende en lewegewende entiteit van alles wat bestaan. 

Sakrale Geometrie

Sacred geometry - Sakrale Geometrie

’n Goeie voorbeeld van hoe simbole jou onderbewussyn kan manipuleer is die sg. “Sacred Geometry” (“Sakrale Geometrie”). Geometriese vorms is niks anders nie as ’n beeldryke kommunikasiemiddel wat jou in ’n transendentale bewussyn-patroon kan bring, as jy lank genoeg daaraan blootgestel word. In kort; dit is ’n mistieke metodiek om jou rasionele denke prys te gee vir ’n bewussyn-toestand waarin jou alledaagse ondermaanse ervarings plek maak vir bonatuurlike, en meestal euforiese ervarings, soos om in die teenwoordigheid van God te wees, of jou in ’n denkpatroon te plaas waaruit dit uiters moeilik is om te ontsnap (“mind control”).

Sakrale geometrie is primêr daarop ingestel om op mistieke wyse die onsienlike sigbaar, voelbaar, en verstaanbaar te maak (soos Stephan Joubert se ekerk dit bewoord). Was dit miskien die rede waarom Riekert Botha besluit het om die Vrymesselary se sakrale geometriese simbool, genaamd “Die Saad van die Lewe” (soos hierbo voorgestel) te gebruik om Christus as die Bron van alle Lewe in Johannes 1:4-5 te beeldsend?

Ek gebruik doelbewus die woord “beeldsend” want die simbool se grootte oordonder die Johannes 1:4-5 kleinskrif daaronder so oorweldigend dat dit onuitwisbaar op jou brein-sinapse ingeprent word. Wat bly oorheersend in jou verstand vassteek nadat jy sy video’s gekyk het? Is dit Johannes 1 verse 4 en 5 of die okkulte Vrymesselaars simbool “Saad van die Lewe” wat in jou gemoed bly vassteek? Dit is beslis nie die eersgenoemde nie. Die skrywer van hierdie artikel sal later verduidelik waarom dit so is.

Argitektuur van die Universum

GAOTU - Vrymesselary

Daar word dikwels na “Sakrale Geometrie” verwys as die “Argitektuur van die Universum.” As daar ’n argitektuur is, dan moet daar vanselfsprekend ook ’n argitek wees, en inderdaad sy naam in Vrymesselary is GAOTU (“The Great Architect of the Universe”) of, soos hulle dikwels na hom verwys, JAHBULON, wat kwansuis sy verlore naam is.

Dit is ’n saamgestelde konkoksie van drie name – Jehova plus twee heidense afgode, nl. die bose Kanaänitiese god Baal (Jeremia 19:5; Rigters 3:7; 10:6) en die Egiptiese god Osiris. Laasgenoemde is ’n ander naam vir die Bybelse Nimrod wie se vrou Semiramis as Isis bekend gestaan het in die Egiptiese panteon van afgode. [Let op Albert Pike se verwysing na die Sfinks in die ondergaande aanhaling uit sy boek “Morals and Dogma.”

(Coil se “Masonic Encyclopedia, p. 516; Malcom C. Duncan, Masonic Ritual and Monitor, p. 226].

Hoewel Albert Pike die argitektuur van die universum (Sakrale Geometrie) nie so pertinent en duidelik soos Albert G. Mackey (The Symbolism of Freemasonry: Illustrating and Explaining Its Science and Philosophy, its Legends, Myths and Symbols)  in sy “Morals and Dogma” uiteensit en illustreer nie, lê hy geweldig baie klem op die Argitek van die Universum. Hy skryf:

Sover dit die gewone en algemene verduideliking betref, kan bygesê word dat die wysheid van die Argitek geopenbaar word in die kombinasie, soos alleen ’n vaardige argitek dit kan doen, en soos God dit oral oor gedoen het ,— byvoorbeeld, in die boom [Boom van die Lewe], die menslike liggaam, die eier, die selle van ’n heuningkoek—krag met grasie, skoonheid, simmetrie, proporsie, ligtheid, versiering.  

Dit, ook, is die volmaaktheid van die orator en digter – om krag, sterkte, energie met grasie van styl, musikale kadense, die skoonheid van simbole, die spel en verligting van verbeelding en fantasie; en so, in ’n Staat, die oorlogsugtige en industriële krag van die mense, en hulle Titaniese krag, moet met die skoonheid van die kunste, die wetenskappe, en die intellek gekombineer word, as die Staat die hoogtes van uitmuntendheid wil bereik, en die mense waarlik vry wil wees.

Harmonie hierin, soos in alles wat goddelik is, die materiaal, en die mens, is die resultaat van ewewigtigheid (“equilibrium”), van die simpatiese en opposisionele aksies tussen teenstrydighede; ’n enkele Wysheid bokant hulle wat die balk van die weegskaal vashou. Om die morele wet, menslike verantwoordelikheid, vrye wil, met die absolute krag van God; en die bestaan van boosheid met Sy absolute wysheid en goedheid, en genade, — dit is die groot enigmas van die Sfinks.

Dit is ’n hele mondvol en sekerlik ook moeilik om in een sarsie agter die kap van die byl te kom. Bygesê, die esoteriese verwikkeldheid van Vrymesselary, is tipes van alle kultusse en okkulte bewegings. Die sg. “verborgenhede” wat met verdrag in die onderskeie grade of trappe in die geheimenis aan die onderskeie ingehuldigdes geopenbaar word, is ’n manier om hulle gebonde te hou aan die sg. “craft.” Daarom is dit so moeilik om uit die Vrymesselaar se greep van verborgenheid (die okkulte) vry te kom hoe hoër hulle klim.

Interessantheidshalwe, die hemelwaartse geklouter op hul trappe (grade) na bo is, nie net ’n allegorie van die Toring van Babel nie, maar word ook, volgens hulle eie bronne, met die Kundlini gees vereenselwig. R. W. Robert Palazzo, DDGM het in 2017 in ’n aanbieding, getiteld “Die Esoteriese Betekenis van die Tweeling Pilare Boas en Jagin” tydens ’n byeenkoms op die Rhode Eiland by die “Providence Plantations College of the Societas Rosicruciana in Civitabus Foederatis,” die volgende gesê,

Die tweeling pilare het ook in die Kabbalistiese Tempel van Salomo verskyn. In die Kabbala word al die misteries van antagonisme, of dit natuurlik, polities, of godsdienstig is, verklaar. Hulle verklaar die pro-kreatiewe stryd tussen man en vrou. Volgens die natuurwette, moet die vrou die man weerstaan, en hy moet haar verlei en oorwin. Sodanig is die betekenis van die twee pilare, hulle is anders en afsonderlik, en andersoortig in voorkoms. Hulle krag lê in hulle verenigde afsonderlikheid; daarsonder sou hulle mekaar vernietig het.  En, om presies dieselfde rede, word die spirituele krag verswak wanneer dit probeer om die temporele te kaap, en die temporele word die slagoffer wanneer dit probeer inbreuk maak op die spirituele.

Menslike ewewig vereis twee voete, die wêreld graviteer tussen twee kragte en netso het generasies twee geslagte nodig. “Wanneer die twee pilare ewewigtigheid vind, word gesê dat dit ’n derde pilaar genereer, een in die middel wat esoteries die mens en mensdom verteenwoordig. Dit sal ook die vereniging van Sushumna en die Kundalini aandui, en hierdie heilige huwelik sal in die menslike liggaam ’n goddelike lig skep wat dit volledig sal verlig. Dit is dan dat die mensdom die derde pilaar sal word, Wysheid.” In die Kabbalisme verteenwoordig die pilare Sepiroth, die Boom van die Lewe, en simboliseer genade en genadeloosheid. Wanneer dit Kabbalisties vertolk word, beteken die name van die twee pilare, “In krag sal my huis gevestig word.”

Die Hoë Priester het in die prag van verstandelike en geestelike verligtheid as ’n stom getuienis van die volmaakte deugsaamheid van die ewewigtigheid tussen die twee pilare gestaan, daardie hipotetiese (skynbare) punt wat ewe ver van al die uiterstes is. Sodoende het hy die goddelike natuur van die mens verpersoonlik, die misterieuse Pythagorese Monad in die teenwoordigheid van die Duad. Die regterkantse pilaar, Jagin, het sy fondasie op Chochmah, die uitgestorte Wysheid van God. Die drie ligballe wat daaraan hang is almal manlike geslagsorgane. Die pilaar aan die linkerkant, Boas, het ook drie aligballe wat daaraan hang, maar met vroulike geslagsorgane. Dit word erken dat die drie pilare uiteindelik in die Malchuth (die tiende sfeer in die Kabbalistiese Sephirot, Boom van die Lewe) verenig word waarin al die magte van die superieure wêrelde gemanifesteer word.

Soos hierbo uiteengesit, is dit onteenseglik waar dat Vrymesselary, Oosterse spiritualiteit en die Joodse Kabbala drie strominge is wat almal uiteindelik in dieselfde verrotte rivier saamvloei, ongeag hoeveel keer jy die Bybel aanhaal en met dawerende stem God se soewereine gesag in YouTube videos uitbasuin. As die wortel vrot is, is ook die vrugte vrot.

Onlosmaaklike Simboliese Verbondenheid

Alle sakrale geometriese vorms is innig en onlosmaaklik verbonde aan mekaar, omdat hulle almal vanuit die Blom van die Lewe voortvloei. Hulle is onskeibaar en onafskeidbaar. Al gebruik jy net een daarvan, is jy nog steeds besig om ook die ander te verteenwoordig. Sou jy reken dat die gebruik van net een nie met Vrymesselary geassosieer kan word nie, in hierdie geval die simbool van die “Saad van die Lewe” op Riekert Botha se Vita Dei YouTube videos, word die ewewigtigheid (“equilibrium”) van die simbole onderling verbreek.

As sodanig, omseil jy die kern betekenis van die Tweeling Pilare Boas en Jagin, naamlik die volmaakte ewewigtigheid (“equilibrium”) tussen goed en kwaad, (soos verbeeld in die Boom van die Lewe, lig en duisternis, God en Satan, en morele vastigheid (vrede) en morele verval (chaos).

Dit, op sy beurt, ontken die Vrymesselary se filosofie aangaande die goddelike natuur van die mens, soos wat Satan dit in die Tuin van Eden aan Eva voorgehou het, “Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” (Genesis 3:4-5). In kort, ’n verbrokkelde simboliek (d.w.s. die gebruik of aanwending van net een of twee simbole los van die ander om kwansuis Bybelse waarhede oor te dra) is a-Vrymesselaar retoriek. Dit bestaan nie. Dit is en bly outentieke Vrymesselary.

Die beginsel om ewewigtigheid te skep tussen twee opponerende uiterstes is ook niks anders as die Oosterse Jin-Jang spiritualiteit nie, asook die New Age parafrasering van die “Onse Vader” met die woorde “As above, so below.” Dit kom ook knap ooreen met die Duitse filosoof, Georg Wilhelm Friedrich Hegel, se dialektiek waarin twee opponerende elemente of kragte — tesis en antitese — alchemisties (“alchemistically”) saamvloei om ’n sintese (ewewigtige en harmonieuse eenheid) te vorm.

Ons het reeds in die aanhaling hierbo gesien wat die doel en betekenis van die opponerende Tweeling Pilare in Vrymesselary is, nl. dat “Wanneer die twee pilare ewewigtigheid vind, word gesê dat dit ’n derde pilaar genereer, een in die middel wat esoteries die mens en mensdom verteenwoordig. Dit sal ook die vereniging van Sushumna en die Kundalini aandui, en hierdie (on)heilige huwelik sal in die menslike liggaam ’n goddelike lig skep wat dit volledig sal verlig. Dit is dan dat die mensdom die derde kolom sal word, Wysheid.” Die enigste afleiding hieruit, is dat die mens dan soos God (Christus) sal wees en uiteindelik immortaliteit hier op aarde sal bereik. Soos u weet, word hierdie antichristelike kettery reeds geruime tyd in die Nuwe Apostoliese Reformasie en die Voorspoedteologie (WOF) verkondig.

Dit sal dan die oomblik wees wanneer die mensdom die derde kolom sal word, Wysheid.” Dit is maar eintlik wat die Satan vir Eva in die Tuin van Eden gesê het, “Die goed en die kwaad soos dit in die Boom van die Kennis van goed en kwaad verteenwoordig word, is nie twee teenoorstaande en vyandiggesinde kragte nie. Hulle is een saamgestelde komponent wat nog nie alchemisties soos in ’n huwelik saamgebind of verenig is nie. Want, God weet dat wanneer julle met julle esoteriese simboliek, rituele en geheimenisse die twee uiteindelik in ’n ewewigtige eenheid saamvoeg, julle soos Hy sal wees wanneer julle verligtheid, goddelikheid en immortaliteit (Wysheid vanself) bereik.”

Soos u seker weet is die oorgrote meerderheid van die kerke oorryp vrot van hierdie leuen omdat so te sê alle kerke deur die bank deur Vrymesselary geïnfiltreer is. Hulle is beslis oral. G’n wonder Jesus het gevra, “maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8). Waarom het Hy gesê “die geloof” en nie net “geloof” nie? Omdat daar net ’n enkele geloof is wat sondaars kan red en dit is die geloof in Christus Jesus. Enigiets, hoe gering ook al, wat mense byvoeg om “die geloof” te rugsteun, te verbeter, of te beredder, is nie “die geloof” nie. Dit is “geloof plus iets anders” en kan nie red nie.

Die Saad van Lewe

Origin-of-flower-of-life - Die Saad van Lewe

Soos vroeër vermeld, kan sakrale simbole nie in afsondering of in isolasie van mekaar beskou word nie. Die een is soos die ander volkome afhanklik van elkaar. Nogtans moet daar ’n prototipe wees waaruit al die ander ontwikkel het, en hierdie oer-simbool is die sg. “Blom van Lewe.” Vrymesselaars beskou hierdie simbool as die houer (“container”) van al die ander simbole. Hierdie houer se verskyning word teruggevoer na die begin in Genesis 1:2, “En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, . .  ..” Hier eindig die Vrymesselaar se siening rakende die skepping, soos ons aanstons sal sien.

Gees, en nie die Heilige Gees nie, het volgens Vrymesselary bewussyn (die bewustheid van lewe) in aansyn gebring. Voor dit was daar niks — geen sterre, geen planete, geen atome, geen kwantummeganika, en geen God-deeltjies (“God particles”) nie — net bewussyn. Dis al. En, omdat bewussyn binne hierdie sfeer van niks, nie op of af, links of regs kon beweeg en dus uitdy nie, het dit binne die leegheid gedryf (soos verteenwoordig deur die Oog van Horus). Hoe nou gemaak? Dis maklik. Bewussyn  het sigselwers rondom sy kern (middelpunt) uitgebrei na ’n volmaakte sfeer (sirkel), sommer so vanself, sonder enige transendentale entiteit, mag of krag.

Dít, glo hulle, was die oerbegin van die skepping, al erken hulle dat “die Gees van God op die waters gesweef het.” Dit was toe dat bewussyn by wyse van ekspansie vanuit sy middelpunt spasie vir Homself geskep het om nie meer net ’n bewussyn (dotjie in die niks of leegheid te wees nie) maar ’n volskaalse gnosis om as ’n Persoonlikheid te gedy, en Homself ook te repliseer. Die uiteinde van die saak is dat Bewussyn  die hemel en die aarde geskep het.

Die oer-replisering word genoem die Vesica Pisces (letterlik, “die blaas van ’n vis”). Die Vesica Pisces het ook ’n baie sterk affiliasie met die Mandorla. En so, uiteindelik, netsoos die mens uit ’n enkele sel ontwikkel en binne presies 33 mitosiese verdelings (’n sakrale getal in die Vrymesselary) die volledige getal menslike selle bereik, so-ook verdeel bewussyn totdat dit uiteindelik binne ses dae (die hoeveelheid skeppingsdae) in die sg. Saad van die Lewe (VitaDei se video kenteken) bereik het.

Christene in die Vrymesselary sal onmiddellik ontken dat dít hulle siening van die sesdaagse skeppingsverhaal is, en volhou dat God alles gemaak het. Hou egter in gedagte dat Vrymesselary ’n godsdiens is waarin enigeen van watter godsdiensoortuiging ook al, die Boeddhisme, die Hindoeïsme, die Roomse, die Gereformeerdes, die Charismatiese, en self ook die Ateïsme ’n welkome nis kan vind. 

Dit maak nie saak wat jou godsbegrip en jou geloofsoortuigings is nie. soos reeds vermeld, verleen die Tweeling Pilare Boas en Jagin van Salomo se tempel, wat die verpersoonliking van die ewewigtige vereniging van opponerende uiterstes is, alle Vrymesselaars die vryheid om te midde van hulle verskeidenheid, verskille en selfs antagonisme broederskap en kameraadskap te beoefen. Wat voed en bemes hierdie broederskap en kameraadskap? — net een ding, SAKRALE GEOMETRIE, SIMBOLE, en RITUSSE. So skryf Albert G. Mackey. Aa 33˚ of the Scottish Rite (1807-1881) van die Skotse Rite, in sy boek, “The Symbolism of Freemasonry: Illustrating and Explaining Its Science and Philosophy, its Legends, Myths and Symbols.

Die “trestle-board” (bloudruk) is, dan die simbool van die natuurlike en morele wet. Soos enige ander simbool van die orde, is dit universeel en verdraagsaam in sy toepassing; en terwyl die Christen Vrymesselaar met onfeilbare integriteit vaskleef aan daardie verduideliking wat die Skrifte van beide dispensasies ons bloudruk uitmaak, laat ons toe dat ons Joodse en Mohammedaanse broers gemaklik en tuis voel in hulle boeke van die Ou Testament, of die Koran.

Vrymesselary meng nie in met die eiesoortige vorm of ontwikkeling van enigeen se religieuse geloof nie. Al wat dit vra, is dat die interpretasie van die [gemeenskaplike] simbool sal inpas by wat elkeen meen die geopenbaarde wil van sy Skepper is.

[DTW: M.a.w., dit skeel hulle maar min watter god of gode of godinne elkeen aanbid, netso lank die gemeenskaplike simbool verteenwoordigend is van die hele ou spul. Vir die Christen kan ’n simbool sy spesifieke godsdiensoortuigings verteenwoordig, en dieselfde simbool Judaïsme, Islam, Boeddhisme en Hinduïsme. Hou dit asseblief in gedagte wanneer ons Die Orde van die Lamp in die volgende seksie bespreek.)

In ’n artikel van die Grand Lodge Free & Accepted Masons of WI, “Seeking Light in Masonry” word die voorwaardes vir toelating tot die Vrymesselary soos volg in ’n paar sinne bewoord.

  • Wees versekerd van jou intensies. Wees seker dat dit nog steeds jou begeerte is om voort te gaan met jou soeke na lig en kennis. Dit is uiters noodsaaklik dat jy weet, voordat jy die drumpel oorsteek, dat daar geen behoorlike plek in die Vrymesselary vir die halfhartiges en onstabieles is nie.
  • Simboliek bereik ’n hoë mate van ontwikkeling in die Vrymesselary en is grootliks verantwoordelik vir die universalisme daarvan. Mense van verskillende tale vind dit dikwels moeilik om ’n gemeenskaplike verstandhouding te vind, maar simbole stel mense in staat om hulle verskille te oorbrug sonder die noodsaaklikheid van enige gesproke woord. Die gebruik van simboliek is een van die effektiefste maniere waarmee Vrymesselary strewe om alle mense te verenig. (Manly P. Hall, 33˚, skryf in sy boek The Lost Keys of Freemasonry, p.65.)

Die ware Vrymesselaar is nie aan ’n geloofsbelydenis gebonde nie. Hy besef met die goddelike illuminasie van sy losie dat, as ’n Vrymesselaar, sy godsdiens universeel moet wees: Christus, Boeddha, of Mohammed, die naam beteken nie veel nie, omdat hy alleenlik die lig en nie die ligdraer herken nie.

As daar een suksesvolle ding sou kon wees wat die Satan bedink het om eenheid, harmonie en samewerking tussen alle godsdienste te smee, dan is dit die een-wording-wêreldorde filosofie van die Vrymesselaars. Hulle filosofie is in die godsdiens, die politiek, die besigheidswêreld, die vermaaklikheidswêreld, die onderwys, regerings, die media en laaste maar nie die minste nie, in baie families.

Dit opsigself is niks anders nie as die NAR (Nuwe Apostoliese Reformasie en Domeinisme) se “Seven Mountains” program om kwansuis die wêreld vir Christus op te eis en te herwin voordat Hy kan terugkom. Hulle is maar eintlik besig om die weg vir die Antichris te berei. Kom ons noem hulle sommer die valse Johannes die Doper wat almal – Jood, Christen, Mohammedaan, Boeddhis, Hindoe, Ateïs, Satanis, of wat ookal, in die strome water van simbolisme wil doop, en sodoende die weg vir die Antichris berei.

Die Orde van die Lamp

Die Orde van die Lamp
Die Orde van die LampDie Orde van die LampDie Orde van die LampDie Orde van die LampDie Orde van die Lamp

Cordis Trust, met Dr. Fanie Marais as Voorsitter en ’n getroue ondersteuner van Bybelkor / Bybel -Media, het op 1 November 2012 Die Orde van die Lamp Prys aan Riekert Botha oorhandig vir sy buitengewone bydrae tot die uitdra van die Boodskap van Hoop deur die Woord. Sonder om enigsins voor te gee, te impliseer of te suggereer dat Riekert Botha ’n volskaalse ingelyfde Vrymesselaar is, moet ons nogtans vra waarom hy hom besig hou met Vrymesselaar embleme en simbole. Wat het Die Orde van die Lamp naastenby of enigsins iets te make met die verwysing na ’n lamp in die Bybel?

Dit is nie toeval dat lig so ’n belangrike simboliese rol in Vrymesselary speel nie. Benewens die feit dat dit verband hou met die skeppingsverhaal toe lig en duisternis geskei is, vervul dit ook ’n simboliese rol in die sferiese “Blom van die Saad” en die “Saad van die Lewe,” veral ten aansien van die vier reghoekige lyne wat vanuit die middelpunt na die Noorde, Suide, Ooste en Weste strek. Die eerste vraag wat ’n Leerling Vrymesselaar tydens sy inisiasie ritueel gevra word, is, “Wat soek jy” en die aangeleerde of toegesegde antwoord is altyd, “Ek soek lig.” Lig is kwansuis kennis en wysheid maar ten regte is dit ’n soek na verligting (“enlightenment”).

Albert G Mackey wat as die vernaamste kenner van Vrymesselary beskou word, skryf die volgende oor die betekenis van lig,

Lig was, in ooreenstemming met sy antieke religieuse sentimente, die hoogste doel waarna almal in al die antieke religieuse Verborgenhede gestrewe het. Dit was toe, soos nou, in die Vrymesselary, tot dié simbool van waarheid en kennis verhef. Dit was en is nog altyd sy antieke simboliek, en ons moet die eblematiese betekenis daarvan nooit vergeet nie, ook wanneer ons die aard en betekenis van die Vrymesselaar se lig betrag.

Wanneer die kandidaat die [Vrymesselaar) lig vir homself opeis, is dit nie bloot net ’n aanvraag na daardie  materiële lig nie, wat fisiese duisternis verdryf nie; dit is slegs die uiterlike vorm wat die interne simboliek verskuil. Hy smag na intellektuele verligting wat die duisternis van verstandelike en morele onkunde verjaag, en bring in sy gesigsveld, as ’n ooggetuie, die verhewe waarhede van die religie, filosofie en wetenskap, wat die Vrymesselary se hoof doel is om te leer.

The Symbolism of Freemasonry: Illustrating and Explaining Its Science and Philosophy, its Legends, Myths and Symbols”

Die lig soos hierbo uiteengesit, is beslis nie die Lig waarvan die Bybel praat nie. Die Bybel verwys sonder die gebruik van simboliek, verborgenhede, geheimenisse en rituele na Jesus Christus, die Seun van die Lewende God as die Ware Lig. Simeon het Hom kort en kragtig opgesom as die Lig toe hy die Seuntjie in sy arms geneem en gesê het.

“En daar was ‘n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie. En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet, het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê: Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke— ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.” (Lukas 2:25-32).

Sy lig tot verligting van die nasies het net een doel gehad en dit was om almal wat in duisternis (sondeverlorenheid) geleef het te soek en te red (Lukas 19:10), en nie om die mens se selfgemaakte godsdienste, filosofieë  en wetenskappe te illumineer nie. Die lig waarna Albert G. Mackey en die Vrymesselary verwys is niemand anders as Lucifer nie.

Albert Pike skryf.

Lucifer-is-god-Albert-Pike

Cordis Trust huldig en vereer nie net buitengewone bydraes tot die uitdra van hoop deur kerklui met die sg. Orde van die Lamp nie. Hulle huldig mense ook met die volgende pryse.

Albei hoort tot die Vrymesselary simboliek. Weereens moet hier ondubbelsinnig verklaar word dat hierdie artikel hoegenaamd nie poog om Riekert Botha as ‘n volbloed geïnisieerde Vrymesselaar wil of kan ontbloot nie. ‘n vraag wat hy egter sal moet beantwoord is, “En die . . .? Wat maak dít hier?

Vita-Dei-emblem - Vita-Dei-emblem - Vrymesselary
Please share:

Tom Lessing (Discerning the World)

Tom Lessing is the author of the above article. Discerning the World is an internet Christian Ministry based in Johannesburg South Africa. Tom Lessing and Deborah Ellish both own Discerning the World. For more information see the About this Website page below the comments section.

2 Responses

  1. Deborah (Discerning the World) says:

    Thanks Tom, great article  :clap: 

  2. Natalie De Bastos says:

    Baie interessant artikel. Kan net dink hoeveel ure se navorsing nodig was. Baie dankie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *