Net Twee Dinge – Vita Dei Woordskool

Net twee dinge nodig om te weet?

Net twee dinge om te weet – In die meegaande YouTube video van Vita Dei Woordskool, waarin Riekert Botha die Berg van Verheerliking in Matteus 17 bespreek, sê hy ’n baie eienaardige ding nl. dat die volgende twee dinge al is wat ons moet weet, en as ons niks anders weet nie, is ons nie slegter daaraan toe nie. Die twee dinge is:

  1. Dat Jesus die geliefde Seun van God is, en
  2. Dat almal na Hom moet luister.

Is dit werklik die enigste twee dinge wat ons moet weet?

Wat van God se beloftes t.o.v. die toekomstige dinge, en dat die Heilige Gees ons sal lei in die hele waarheid, en nog boonop die toekomstige dinge aan ons openbaar? (Johannes 16:13).

Is dit nie ook belangrike dinge wat ons moet weet nie? Jesus het dan so gesê. Waarom luister Riekert Botha en sy vrou Pippa nie na Hom nie?

Waarom sê Riekert so iets onbesonne? Ons sal later sien waarom Hy so sê.

Natuurlik is Jesus Christus God die Vader se geliefde Seun, en natuurlik behoort almal na Hom te luister. Selfs die duiwels het geweet Hy is God in die vlees en het net soos die dissipels bewend van vrees voor Hom neergeval, en ook gedoen wat Hy sê.

 “... en skreeu met ‘n groot stem en sê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie. Want Hy het vir hom gesê: Onreine gees, gaan uit die man uit! En Hy vra hom: Wat is jou naam? En hy antwoord en sê: Legio is my naam, want ons is baie. Toe smeek hy Hom dringend om hulle nie uit die land weg te stuur nie. En dáár teen die berge het ‘n groot trop varke gewei, en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar. En Jesus het hulle dit dadelik toegelaat; en die onreine geeste het uitgegaan en in die varke gevaar, en die trop—daar was omtrent twee duisend—het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink.” (Markus 5:7-13).

Dit opsigself bewys dat dit nie genoeg is nie. Hoe kan dit wat selfs die duiwels glo en doen, genoeg wees?

Dit volg dat hierdie twee dinge hoegenaamd nie genoeg is om te weet nie, veral nie vir ongelowiges se bekering en redding nie.

Hoe op deeske aarde kan jy van ongelowiges wat dood is in hulle sondes verwag om te erken dat Jesus God se geliefde Seun is en dat hulle na Hom moet luister (aan Hom gehoorsaam moet wees en aan sy gesag onderdanig moet wees)?

Dit is net plein onmoontlik. (1 Korintiërs 2:14).

Toe Johannes die Doper en Jesus hulle bediening begin het was hulle eerste woorde nie, “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het, luister na Hom” nie; hulle eerste woorde was,

“Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:15).

Let op dat die koninkryk van God pertinent in dieselfde asem as bekering genoem word, en tog verklaar Botha dat daar ná die wederkoms van Christus niks meer op die aarde gaan gebeur nie.

Dit lyk amper of Riekert Botha lief is vir die woorde “niks meer nie.” Hoe dit ook al sy, dit is hoofsaaklik die rede waarom hy Mattheus 17 verkeerd verstaan en uitlê.

Riekert Botha se pleidooi dat God die Vader se verklaring “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom” die enigste twee dinge is wat ons moet weet, en al weet ons niks anders nie, sal ons nie slegter daaraan toe of geestelik armer wees nie, is opsigself ’n bewys dat hy nie na die Seun luister nie.

Om vir iemand so-iets te sê, is opsigself ’n daad van ongehoorsaamheid aan die Seun wat gesê het, “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. (2 Timoteus 3:16-17).

Hierdie gedeelte sê juis dat as ons nie die hele Skrif as nuttig tot lering, tot weerlegging, en teregwysing toepas nie, sal ons nie volkome mense van God kan wees nie, en vir elke goeie werk volkome toegerus wees nie.

Juistement, ons sal dan geestelik baie slegter en baie armer daaraan toe wees. Blykbaar wil Riekert Botha nie hê sy luisteraars en volgelinge moet geestelik groei nie, en moedig hulle aan om oogklappe te dra wat net een waarheid omvat en dit is, “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom.”

Soos reeds vermeld kan hierdie majestueuse verklaring nie red nie, omdat die duiwels dit ook glo en sidder (Jakobus 2:19).

Die meeste mense wat onder die prediking van die Woord tot bekering gekom het, het meestal net een vraag gevra, “Wat moet ons of ek doen om gered te word?” of “Wat moet ons doen om die werke van God te doen?”

Wys vir my ’n enkele plek waar hierdie vraag beantwoord is met God se verklaring, “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom.”

Geen ongelowige persoon, hoe goed en nederig ook al, kan na God luister om Hom gehoorsaam te wees nie, om die eenvoudige rede dat hy of sy nie die inwonende Heilige Gees het nie.

Ons kan dit dus nie as ’n evangelisasie uitreik metode gebruik om verlore sondaars vir Christus te bereik nie.

As dit wel as ’n evangelisasie uitreik metode gebruik kon word, sou Johannes die Doper, Jesus en sy dissipels dit almal gebruik het.

Nie een van hulle het dit ooit gebruik nie. Hulle almal het opdrag ontvang om vir die mense te sê, “Bekeer julle want die koningryk van God het naby gekom,” bedoelende dat die Koning van die koninkryk in hulle midde was en dat hulle een ding kortgekom het om sy koninkryk te mag ingaan, en dit is bekering.

Paulus, die apostel van die heidene, het telkens in sy verkondiging van die evangelie die lering oor die komende koninkryk van Christus op aarde beklemtoon.

Hy het die prediking oor die genade van God in dieselfde lig beskou as die leerstelling oor die Koninkryk. Toe hy hom in Rome op die keiser beroep het in sy verdediging teen die Jode, het sommige van die vernaamste Jode hom genooi om hulle meer te vertel.

"En hulle het vir hom ‘n dag bepaal, en baie het na hom in sy verblyfplek gekom. En in ‘n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus." (Handelinge 28:23).

Paulus kon nie hier na die Koninkryk van God soos dit in die hemel lyk waar God die Vader sy woning het, verwys het nie.

Toe Paulus in die derde hemel opgeruk is, was hy nie toegelaat om die woorde wat hy dáár gehoor het, uit te spreek nie (2 Korintiërs 12:4).

En tog het hy weer eens in verse 30-31 na die prediking van die evangelie verwys as ’n getuienis m.b.t. die koninkryk van God.

Hoe kon hy vir ’n volle jaar oor die koninkryk van God in die hemel verwys as hy nie toegelaat is om daaroor te spreek nie? Hy moes dus na die koninkryk van God (Jesus Christus) hier op aarde verwys het.

“En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.” (Handelinge 28:30-31)

Paulus het gelyktydig met sy bediening van die evangelie vir twee volle jare lank die koninkryk van God hier op aarde, ná Christus se Wederkoms uitgelê.

Nee, seg Riekert Botha, dit is nie nodig nie. Die twee jaar wat Paulus oor die koninkryk in Rome gepreek het, is toetental oorbodig.

Al wat ons nodig het om te weet is die twee dinge wat God op die Berg van Verheerliking (t.w. die vooruitskouing van die koninkryk) gesê het, nl. “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom,.”

Dit is beslis nie al wat ons moet weet om geestelike armoede te bestry nie.

Trouens, die evangelie sonder die uitleg van die koninkryk, soos Paulus bewys het, maak ons geestelik baie armer.

Al die apostels het in hulle bediening van die evangelie ook die koninkryk van God op aarde uitgelê.

As dit nie nodig was nie, sou Jesus hulle nooit geleer het om te bid nie, “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”

Ons moet ook luister na wat die 12 apostels en Paulus gesê en geleer het, en nie net wat Jesus Christus sê en gesê het nie.

“Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.” (1 Johannes 4:6).

Dit impliseer dat as jy nie na die twaalf dissipels en Paulus luister nie, kan jy nie daarop aanspraak maak dat jy na die Seun luister nie.

Dit is onmoontlik. En let daarop dat ongehoorsaamheid aan die apostels groter en ernstiger gevolge vir mense wat nie na hulle luister nie, inhou. Die rede hiervoor is omdat hulle al die leerstellige waarhede met verdrag onder die inspirasie van die Heilige Gees al hoe duideliker omskryf en neergepen het.

Mense kon dus makliker daarmee vertroud raak. Verskonings was daar nie meer langer so maklik beskikbaar nie. Nogtans voer Riekert Botha die volgende briljante verskonings aan.

En ek kan nie vir jou begin vertel wat is die bedienings faktor daarvan in my eie lewe nie [nl. dit, “Dit is my Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom.”]. Daar’s soveel jare in my lewe wat dit my doelstelling was om soveel te weet as wat ek kan, soveel boeke te lees as wat ek kan, soveel te studeer as wat ek kan, en informasie en inligting te versamel en te verwerk, en as sulks dink ek nie daar’s enigsins fout daarmee nie, want jy’s nuuskierig gemaak; jy’s gemaak om te wil weet, en God sê eintlik in hierdie situasie daar’s net twee goed wat jy moet weet.

As jy niks anders in hierdie lewe weet nie, is jy nie slegter daarvan af nie. Inteendeel, in die kerk, en hoe langer ek in die kerk is, hoe meer besef ek hoe wonderlik en geseënd is ’n mens wat verstaan daar is net twee goed wat jy moet weet en jou lewe daaraan toe te wei. Hoeveel van ons het die belewenis in die kerk, ons leer en leer en leer en leer en leer en leer, om net jare later agter te kom dat die meeste daarvan moet ons ontleer. Meeste van die goed, wel ten minste baie van die goed, wat ons geleer het, was oorbodig, onnodig of selfs verkeerd. En ons wei ontelbare hoeveelheid ure, en onnoembare, onberekenbare hoeveelhede energie om dinge te jaag wat op die ou einde op niks uitloop nie.

Watter dinge Riekert Botha ook al moes ontleer, is nie duidelik nie want hy sê nie vir ons nie.

Dié is seker, drie van die goed wat hy ontleer het is die Wegraping, die sewejarige verdrukking en die duisendjarige vrederyk van Christus op aarde.

Wat Botha nie besef nie, is dat God die Vader se woorde, “Dit is my geliefde Seun in wie ek ’n welbehae het. Luister na Hom” baie sterk verband hou met Christus se duisendjarige vrederyk op aarde. Dis nou maar wors.

Waarom die Berg van Verheerliking?

Transfiguration - Berg van Verheerliking

Waarom het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes na ’n eensame plek bo-op ’n berg geneem (waarskynlik die berg Hermon naby Caesarea)?

Dis tog sekerlik ’n baie belangrike vraag, en tog het Botha nie ’n enkele keer hierna verwys nie. In Matteus 16:28 sê Christus hierdie baie belangrike ding.

“… die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade. Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.” (Matteus 16:27-28).

Jesus kon sekerlik nie bedoel het dat sy dissipels, wat toe nog in hul verderflike liggame was, Hom sou sien kom in sy heerlikheid in die hemel nie want vlees en bloed (ons tydelike tentwoning) kan die hemelse ewige lewe nie betree nie (1 Korintiërs 15:50).

Hy moes dus na iets anders as God se ewige Koninkryk in die hemel verwys het, toe Hy gesê het, “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Inderdaad, Jesus se woorde – en Riekert en Pippa, asook al hulle Facebook fans, behoort in hierdie verband ook in gehoorsaamheid te luister na die Seun in wie die Vader ’n welbehae het – is ses dae later vervul toe twee reeds gestorwe mense en drie lewendes ’n voorsmakie gekry het van hoe Christus se koninkryk hier op aarde sal lyk wanneer Hy van die troon van sy vader Dawid in Jerusalem die nasies gaan regeer.

Daar’s verskeie elemente van die Berg van Verheerliking wat die toekomstige duisendjarige vrederyk op aarde vooruit skou.

Waarom ’n Berg?

Die Berg van Verheerliking is ’n vooruitskouing van die berg wat tydens die Millennium van vrede in Jerusalem op aarde bo al die ander heuwels sal uittroon. Ons lees daarvan in Jesaja 2:2 en Miga 4:1.

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die HERE!” (Jesaja 2:2-5).
“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek. Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van die HERE onse God vir ewig en altoos.” (Miga 4:1-5).

Hier het ons twee getuies wat volgens die wet van Moses voldoende is om ’n saak te besleg en te bevestig.

So, luister maar gerus na wat Jesus hier sê, Riekert en Pippa. Opvallend is die oproep tot Jakob (Israel) om te wandel in die lig van die Here.

Hierdie einste lig het Petrus, Jakobus, en Johannes gesien toe Jesus op die Berg van Verheerliking van gedaante verander het en sy aangesig geblink het soos die son, en sy klere wit geword het soos die lig.

Onthou asseblief dat Jesus reeds in Matteus 16:28 gesê het dat “sommige van die wat hier staan, […] die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Botha se verklaring in die vierde video oor Jesaja dat hulle hul swaarde tot pikke en hulle spiese tot snoeiemesse sal smee simbolies is van die gelowiges se eravring van die rus en vrede wat hulle in Christus vind en dus nie meer oorlogsugtig sal wees nie, pas nie in die konteks van hierdie gedeelte nie.

Indiwiduele gelowiges was nog nooit as nasies (etniese groepe) in die Skrif gegroepeer.

Ja, hulle kom uit verskeie nasies, maar die nasies waarna Jesaja verwys is etniese groeperinge of afsonderlike volke wat nie meer oorlog sal maak nie.

Die rede hiervoor is dat die Satan ‘n duisend jaar lank gebind sal wees sodat hy nie meer die nasies (gôy gôy) tot oorlog kan mislei nie (Openbaring 20:1-2).

Gelowiges word nêrens in die Skrif met die woord “gôy gôy” omskryf nie. So lieg Botha vir sy luisteraars met sy kosbare en kragtige uitlatings.

Soos verstaanbaar, skilder Riekert Botha ’n heel ander scenario in sy vierde YouTube video van sy reeks oor die boek Jesaja, rondom Jesaja 1:27-31 en 2:1-5, omdat hy ontken dat daar ná Christus se Wederkoms niks anders hier op aarde gaan gebeur nie.

Hy ontken dus ’n letterlike duisendjarige vrederyk wanneer Christus, volgens sy Vader se belofte, vanaf die troon van sy vader Dawid (Lukas 1:32) in Jerusalem op die verheerlikte berg Sion oor die nasies sal regeer.

Daarvan getuig talryke Millennium passasies in die Ou en Nuwe Testamente en veral ook Psalm 2 wat sê,

“Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. [Let op: die eindes van die aarde verwys na niks anders as die aarde nie]. U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.” (Psalm 2:8-9). 

Botha erken ruiterlik dat daar ’n tyd sal kom in Israel se geskiedenis wanneer God se regverdige oordele oor haar uiteindelik sal oorgaan in seën en herstel.

Niemand kan dit ontken nie want Jesaja 2:1-5 sê dit so duidelik. Botha omseil egter ’n letterlike duisend jaar deur te sê,

So, hier’s ’n profesie wat God gaan doen, ’n iets wat God gaan doen, wat heeltemal los gaan wees van die boosheid, en die sonde, en die euwels waarmee Israel op die oomblik te doen het. So, ons kry in hierdie boek beloftes van oordeel, maar ons kry ook beloftes van herstel. Nou, dis nie baie duidelik in die boek Jesaja oor hoe presies hierdie beloftes van herstel sou realiseer nie, alhoewel dit baie duidelik is dat God sê “in terugkeer en rus lê julle heil.”

So daar word ’n voorwaarde aan Israel gestel om deel te word van die herstel en die vastigheid wat God gaan bring deur reg en geregtigheid terug te bring. Daar’s ’n voorwaarde, maar hoe presies God dit sou doen is nie baie duidelik nie. In hierdie boek Jesaja is daar baie wenke, diens van God wat herstel terugbring en seën en lewe terugbring.

En vir ons wat in die Nuwe Testamentiese tyd is, het ’n verstaan en ’n insig op die profesieë in Jesaja wat hierdie mense ten tyde van die skrywe en die bediening hiervan nie gehad het nie, omdat ons het nou ook die verstaan van die bediening van Christus en hoe God vastigheid en herstel, en reg en geregtigheid in Christus terugbring, en dat dié wat in Christus is, is deel van die herstel in geregtigheid en vastigheid en reinheid en lewe wat God belowe het deur o.a. profete soos Jesaja, en dat Christus die vervulling daarvan is, maar dat die teendeel ook waar is, en die teendeel is dat dié wat Christus weerstaan, sal absolute verwoesting belewe, maar dié wat in Christus is, sal absolute lewe belewe.

Ek is nie ’n profeet nie maar ek kan nou reeds voorspel wat Riekert Botha in die res van sy videos oor Jesaja gaan sê.

Hy het reeds in sy vierde video so effentjies daarop gesinspeel. Getrou aan sy allegoriese siening van die eindtyd, wat hy natuurlik van die vader van die Roomse Kerk, Augustinus, ontleen het, sal hy volhou dat die temporele aspekte van die Dawidiese verbond reeds deur Salomo vervul is, en dat die ewigheids aspekte daarvan tans deur Christus se heerskappy oor die kerk, waarvan die bekeerde Jode nou ook deel is, vervul word.

Botha erken ook ruiterlik dat God se woorde ewig is omdat Hyself ewig is. Aldus, is al sy beloftes ook onomkeerbaar, onveranderlik, onbreekbaar, en ewig geborge in sy Seun in wie Hy ’n welbehae het. (2 Korintiërs 1:20).

Nogtans, heg Botha twee keer in sy Jesaja diskussie ’n voorwaarde aan die Dawidiese verbond, menende dat God alleenlik sal doen wat Hy aan Koning Dawid belowe het as Israel in hul spore sou trap.

Die troon van Dawid wat God aan sy Seun belowe het, is dus in die gedrang, omdat hierdie belofte kwansuis nie ja en amen in Christus Jesus is nie. Dit is, volgens Botha, verbreekbaar.

Luister Riekert en Pippa na Jesus in wie die Vader ’n welbehae het?

Die Dawidiese verbond wat intensief verband hou met Koning Dawid se troon wat gedurende die duisendjarige vrederyk deur sy nakomeling, Jesus Christus, in Jerusalem op aarde beset sal word, is ’n onvoorwaardelike verbond.

God sal alles letterlik volbring ten spyte van Israel se afkeerigheid en sondes.

Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors— tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” (Jesaja 9:5-6) 

(So tussen hakies, dis nie net ’n wenk, soos Botha dit noem nie. Dit is ’n belofte van God wat ja en amen is in Christus Jesus sy Seun in wie Hy ’n welbehae het.

Is Christus self die metaforiese vervulling van die troon van die evader Dawid?). Luister dus asseblief na Hom, julle Bothas van Vita Dei faam).

“Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.” (Jeremia 23:5-6). 

(Let asseblief noukeurig op dat Hy as Koning sal regeer in die land. Watter land? Israel, natuurlik, waar die oorblyfsel van die volk Israel veilig sal woon. Is Christus die vervulling van die land? Is Hy self die land?).

“En dit is die woorde wat die HERE gespreek het oor Israel en Juda: Want so sê die HERE: Ons het ‘n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie! Vra tog, en kyk of ‘n manspersoon baar? Waarom sien ek elke man met sy hande op sy heupe soos een wat baar, en is alle aangesigte in bleekheid verander? Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word. En op dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. Maar hulle sal die HERE hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek. Jy dan, wees nie bevrees nie, o my kneg Jakob, spreek die HERE; en wees nie verskrik nie, o Israel! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom skrikmaak.” (Jeremia 30:4-10). 

(Hier sien ons dat die uit die dood verrese Koning Dawid oor die volk Israel gaan regeer, amper soos Josef wat as regent saam met Koning Farao in Egipte geregeer het. In elk geval, sommige gelowiges wat in hierdie tyd tot bekering gekom het, sal as konings en priester OP AARDE regeer. En as julle my nie glo nie, lees gerus Lukas 19:11-27. Dit is beslis nie net simboliek nie).

“Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die goeie woord in vervulling laat gaan wat Ek gespreek het aangaande die huis van Israel en die huis van Juda. In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid ‘n Spruit van geregtigheid laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land. In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon; en dit sal die naam daarvan wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Want so sê die HERE: Daar sal vir Dawid nie ‘n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie;” (Jeremia 33:14-17; Lukas 1:32).
“En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel. En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, húlle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig.” (Esegiël 37:24-25). 

(Waar sal die oorblyfsel van Israel woon? Wel, God wat nie kan lieg nie, sê hulle sal “in die land woon wat Ek aan my kneg Jakob gegee het.”) (Lees ook Daniël 7:13-14; Hosea3:4-5; Amos 9:11; Sagaria 14:4, 9).

En dan, wil Riekert Botha nog steeds in die openbaar op ’n YouTube video vir die wêreld vertel dat daar net wenke van God se herstel van Israel en hulle land in die Ou Testament is en dat dit alles reeds in Christus vervul is omdat die Nuwe Testament dit vir ons soveel duideliker uitspel.

Trouens, die Nuwe Testament beaam wat die Ou Testament m.b.t. die land waarin Israel sal woon met jota en tittel (Matteus 19:28; Lukas 22:30; Handelinge 26:6-7; Jakobus 1:1).

Luister Riekert en sy vrou Pippa na Jesus Christus in wie God die Vader ’n welbehae het?  Hulle het hoegenaamd nie nodig om baie boeke te lees nie. Hulle hoef maar net die Bybel te lees en dit te glo.

As die Berg van Verheerliking primêr betrekking het op die toekomstige duisendjarige vrederyk op aarde, soos Jesus baie duidelik in Matteus 16:28 laat blyk het, dan moes die gekose rolspelers in die manjifieke gebeurtenis ook iets besonders omtrent die duisendjarige vrederyk oordra en verteenwoordig.

Kom ons kyk nou na hierdie persone se verteenwoordigende rolspel op die Berg van Verheerliking.

Weens ‘n gebrek aan ’n beter woord, kan ons hulle die kategorieë van mense noem wat deel gaan hê aan die toekomstige duisendjarige vrederyk op aarde.

Waarom Moses en Elia?

Moses het gesterf voordat hy die beloofde land kon ingaan.

As sodanig verteenwoordig hy op die Berg van Verheerliking al die gelowiges wat reeds gesterf het en dié wat nog sal sterwe gedurende die sewejarige verdrukking, en deel sal wees van almal wat die duisendjarige vrederyk binne sal gaan by hulle opstanding vóór die vestiging van Christus se koninkryk op aarde.

Elia het nie gesterwe nie en is lewend in die hemel opgeneem. As sodanig verteenwoordig hy die gelowiges wat by die Wegraping lewend die Here in die lug tegemoet sal gaan om ewig by Hom te wees (1 Tessalonisense 4:13-18).

Waarom Petrus, Jakobus en Johannes?

Die drie dissipels het in hulle natuurlike liggame deel gehad aan die Berg van Verheerliking wat, soos reeds gesê is, ’n vooruitskouing of voorsmaak was van die komende koninkryk van Christus op die aarde. As sodanig verteenwoordig hulle die gelowiges wat die sewejarige verdrukking gaan oorleef en lewend (in hul natuurlike liggame) die duisendjarige vrederyk sal binnegaan.

Waarom drie hutte, een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia?

Baie mense dink, en so-ook Riekert Botha, dat Petrus uit sy beurt gepraat het omdat hy in die aangrypende oomblik van Christus se verheerliking nie geweet het wat om te sê nie.

Die feit is dat Petrus presies geweet en verstaan het wat hy sê. Hy het die situasie korrek opgesom toe hy gesuggereer het dat die Joodse Sukkot-fees wat tradisioneel elke jaar tussen September en Oktober deur die volk Israel gevier word, vir daardie oomblik paslik sou wees.

Die Sukkot of huttefees het ’n tweërlei betekenis.

Dit verwys terug na Israel se 40 jaar omswerwinge in die woestyn toe hulle nog geen vaste verblyfplek van hul eie gehad het nie en dus van plek tot plek in hutte moes woon.

Dit is ook toekomsgerig en wys heen na die duisendjarige vrederyk wanneer al die nasies jaarliks na Jerusalem sal moet gaan om die Sukkot fees te vier in aanbidding van Hom wat op die troon van sy vader Dawid met ’n ysterstaf sal regeer. Wie ook al weier sal geen reën kry nie.

Kyk, daar kom ‘n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge—want die dal van die berge sal loop tot by Asal—en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U! En in dié dag sal daar geen lig wees nie, die sterre sal duister wees. En dit sal ‘n enige dag wees wat aan die HERE bekend is—geen dag en geen nag nie; maar teen die aand sal dit lig word. En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een. Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning. En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en Jerusalem sal in veiligheid woon. En dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die HERE onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander. En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van al die nasies rondom sal ingesamel word: goud en silwer en klere—’n groot hoeveelheid. En soos hierdie plaag is, sal die plaag wees van die perde, die muile, die kamele en die esels en van al die diere wat in daardie laers is. En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie. En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie. Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie. (Sagaria 14:1-19).

Petrus het goed verstaan dat die huttefees verband hou met die duisendjarige vrederyk wat hy saam met Jakobus en Johannes in ’n voorskou op die Berg van Verheerliking ervaar het, maar sy tydsberekening was nie korrek nie.

Net twee dinge nodig om te weet?

Jesus het op die Berg van Verheerliking bewys dat dit nie genoeg is om net te weet dat Hy God die Vader se geliefde Seun is en dat almal na Hom moet luister nie.

Paulus skryf dat melkvoeding nie voldoende is om geestelike groei in die hand te werk nie.

Die duiwels glo en luister ook, en hulle sidder (Lukas 4:41; Jakobus 2:19).

Ja natuurlik is geloof alleen, en geloof soos dié van ’n kind nodig om gered te word, maar daarna moet geestelike groei en volwassenheid hand oor hand toeneem. Enige kind kan nie op ’n dieet van melk alleen tot volwassenheid groei nie.

Hulle kan en mag dus nie net bly binne die dampkring van wie Jesus is nie. Soos reeds verduidelik, weet selfs die duiwels wie Hy is en hulle sidder.

"En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie," (1 Korintiërs 3:1-2)

Paulus skryf ook,

“Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.” (1 Korintiërs 2:14-16).

Die natuurlike mens is nie noodwendig net ongelowiges nie maar ook Christene wat die leringe van die Gees van God altyd net wil vergeestelik, allegoriseer of simboliseer, en weier om dit as letterlike waarhede aan te neem en te glo.

Christus het belowe dat die Heilige Gees ons in die hele waarheid sal lei en ook die toekomstige dinge aan ons bekend sal maak (Johannes 16:13).

As daar net twee dinge nodig was om te weet, nl. dat Christus God die Vader se geliefde Seun is en dat almal na Hom moet luister, sou Christus nooit gesê het dat die Heilige Gees gelowiges in die hele waarheid sou lei nie.

Hoekom sou dit vir die Heilige Gees nodig wees om ons in waarhede te lei wat tydens die Berg van Verheerliking nog nie bekend was nie, as die wete dat Christus die geliefde Seun van God is in wie Hy ’n welbehae het, en dat ons na Hom moet luister, die enigste ding is wat ons nodig het om te weet?

Dit alleen dui op ongehoorsaamheid aan Christus omdat Riekert Botha nie luister na wat Hy te sê het oor die Heilige Gees nie.

Christus Jesus sê nie minder nie as sewe keer in die boek Openbaring, “Wie ’n oor het, laat hom luister na wat die Gees sê,” en Openbaring is juis die boek waarin toekomstige dinge aan ons geopenbaar word.

Om alles daarin as blote simboliese taal te interpreteer, is niks anders a ’n vorm van ongehoorsaamheid nie, wat op die ou einde beteken dat baie nie luister nie, al gee hulle ook voor dat hulle wel luister. 

See all articles on Riekert Botha here.

To translate this article into English, please use the Google Translate tool provided below.

Read the most recent article on Riekert Botha here.

Please share:

Tom Lessing (Discerning the World)

Tom Lessing is the author of the above article. Discerning the World is an internet Christian Ministry based in Johannesburg South Africa. Tom Lessing and Deborah Ellish both own Discerning the World. For more information see the About this Website page below the comments section.

2 Responses

  1. Bobby says:

    Good evening Tom

    Apologies for commenting on here again. It would be greatly appreciated if you could take a few minutes of your time to respond to my emails.if you do not wish to respond I understand. I hope you have a good evening. Regards, Bobby

  2. Hi Bobby, I’m sorry I have taken so long to respond. I have written you an email. Please stay in touch.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *