Die Pre-Groot Verdrukking Wegraping – Deel 1

Wegraping

Die Wegraping: Inlieding

‘n Goeie vriend en broer van my in die Here het nie lank voor sy dood nie die artikels van ‘n klompie gereformeerde predikante aan my gestuur waarop ek soos volg kommentaar gelewer het.

Dit is nogal ironies dat almal wat die Wegraping ontken tog verplig voel om Paulus se woorde in 1 Tessalonisense 4: Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees, met iets van ‘n Wegraping te vereenselwig. Ds. Rob Visser skryf in sy artikel “Wie Bly Agter?” as volg.

“Die Here Jesus kom by sy wederkoms van die hemel af. Dan staan almal wat op aarde geleef het op. Die mense wat dan op die aarde leef verander. Die gelowiges van alle eeue vaar dan van die aarde op en ontmoet in die lug die Here Jesus. Hulle verwelkom hulle God en Redder en gaan dan saam met Hom na die aarde waar Hy dan almal sal oordeel en waar die aarde tot die nuwe aarde word.”

Hiervolgens is dit duidelik dat die teêstanders van die Pre-Groot Verdrukking Wegraping erken dat die tweede Koms van Christus Jesus ten minste in twee fases moet plaasvind – d.i. die Opraping of Wegraping om Hom in die lug tegemoet te gaan en Sy terugkeer onmiddellik daarna saam met die heiliges na die aarde om die nasies te oordeel.

Daar is ‘n paar wesentlike probleme met hierdie besondere siening. Eerstens, plaas dit die opstanding van almal (gelowiges en ongelowiges) in dieselfde en gelyktydige tydsbestek terwyl die Bybel uitdruklik leer dat hulle nie saam of gelyktydig uit die dood opgewek gaan word nie.

Tweedens, bied die aanname dat alle gelowiges (die opgestane dooies en die oogwink-veranderde lewendes) die Here in die lug tegemoet gaan net om onmiddellik weer na die aarde terug te keer, nie tyd vir die voltrekking van die Bematroon oordeel en die Bruilof van die Lam nie.

Dit is nie waar nie,” sal die anti-wegraap kamp waarskynlik van verontwaardiging uitroep en sê: “Die bruilof vind plaas wanneer Christus met Sy Tweede Koms terugkeer na die aarde onmiddellik nadat Hy Sy bruid in die lug tegemoet gegaan het.”

Die betekenis van “erchomai” (“het gekom”)

Wat sê die Skrif? Volgens Openbaring 19:7 sal die Bruilof van die Lam alreeds a voldonge en afgehandelde gebeurtenis wees wanneer Christus Jesus met Sy Tweede Koms na die aarde terugkeer. Daarvan getuig die woord “erchomai” (het gekom) wat ‘n reeds voltooide daad aandui en nie iets sal wees wat op daardie spesifieke oomblik gaan plaasvind nie.

Die gebruik van die woord waar mense betrokke is, beteken nie dat iets aangebreek het nie maar dat die reeds voldane gebeurtenis van een plek na ‘n ander verplaas is of gekom het, en in die openbare oog sigbaar geword het. M.a.w. dit dui daarop dat die Bruilof van die Lam alreeds voltrek sal wees wanneer Hy met Sy Tweede Koms na die aarde terugkeer.

Dit word ook baie duidelik beaam deur vers 8 wat sê dat “aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.” Dit is uiters belangrik om daarop te let dat die regverdigheid van die heiliges in die meervoud is en verwys dus nie na die eenmalige toegekende geregtigheid wat elke bekeerling by sy redding ontvang nie. Dit verwys na die regverdige dade van die heiliges wat die vuur toets van die Bematroon oordeel deurstaan het.

Die Bematroon oordeel

Ek sal later ‘n bietjie meer oor die Bematroon oordeel sê. Dit beteken nie dat die rein en blink fyn linne (regverdige dade) van die regverdiges by die Tweede Koms aan die heiliges gegee sal word nie. Inderdaad, al die regverdiges kom reeds geklee met rein en blink fyn linne (regverdige dade) wanneer hulle saam met Christus terugkeer.

Daarvan getuig Openbaring 19: 14 baie duidelik: “En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.” So-ook getuig Lukas 12:35, 36 dat die heiliges reeds met hulle rein en blink fyn linne beklee sal wees wanneer hulle saam met hulle Bruidegom terugkeer by Sy Tweede Koms.

Judas vers 14 sê ook uitdruklik dat tienduisende heiliges saam met Christus sal kom by sy wederkoms na die aarde. Met ander woorde, die heiliges moes hulle rein en blink fyn linne  by die Bematroon oordeel ontvang het nadat hulle van die aarde weggeraap is om Hom in die lug tegemoet te gaan.

Die uit-die-dood-opgewekte en lewende-in- oogwink-veranderde heiliges sal dus nie weggeraap word om Hom in die lug tegemoet te gaan en dan weer onmiddellik na die aarde terug te keer nie. Hulle sal Hom na sy hemelse koninkryk vergesel waar elkeen volgens sy dade by die Bematroon oordeel of ‘n beloning gaan ontvang of waar sy dade deur die vuur toets tot niet gemaak gaan word. Daarna volg die bruilof wat ook in die hemelse koninkryk voltrek sal word. Terwyl hierdie dinge in die hemel plaasvind, sal daar ‘n ongekende tydperk van verdrukking oor die hele aarde kom wat sewe jaar lank gaan duur (Mattheus 24)

Calviniste se mislees van ‘n sleutelteks oor die Wegraping

Calviniste oor die algemeen redeneer dat sou die Heilige Gees by die Wegraping saam met die kerk die aarde verlaat, niemand tydens die sewejarige verdrukking tot bekering sou kon kom nie. Ek wens net dat Calviniste soms die moeite sou doen om hulle Bybels behoorlik te lees voordat hulle waag om sulke onbesonne dinge kwyt te raak. Kom ons kyk ‘n slag weer na wat Paulus geskryf het.

En nou, julle weet wat hom teêhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teêhou, uit die weg geruim is.

2 Tessalonisense 2:6-7

Die English Standard Version (die Calviniste se gekose Bybel) sê dit as volg:

And you know what is restraining him now so that he may be revealed in his time. For the mystery of lawlessness is already at work. Only he who now restrains it will do so until he is out of the way.

Paulus sê baie duidelik dat die gees van die Antichris wat deur Satan self gedrewe word, al lankal aan die werk is maar dat daar iemand op aarde is wat hom (Satan) teëhou sodat hy sy seun van die verderf (Antichris) nie kan openbaar nie. Die Heilige Gees is die enigste Persoon wat die vermoë het om die Satan tee te hou.

Dit het God behaag om sy kinders in wie die Heilige Gees woonagtig is en die sout en lig van die aarde is te gebruik om die anti-Christelike werke van die duiwel tee te staan. Die Heilige Gees self word nie tydens die sewejarige verdrukking weggeneem nie maar wel sy behoudende krag. Daar sal dus ‘n geleentheid vir beide Jode en Heidene wees om hulle to Christus te bekeer.

Lukas 12:36: ‘n Sleutelvers om die Pre-Verdrukking Wegraping te verstaan

Wat veral baie veelseggend is en onomwonde bewys dat die Bruilof van die Lam ‘n voldonge en afgehandelde gebeurtenis sal wees wanneer Christus Jesus met Sy Tweede Koms verskyn, is Sy woorde in Lukas 12: 36: “En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.” 

Van wie en met wie praat die Here Jesus hier? Praat Hy van en met Sy bruid? Dit sou baie vreemd wees indien dit Sy bruid sou wees vir wie Hy maan om gereed te wees om vir Hom oop te maak wanneer Hy terugkeer vanaf die bruilof. As die bruid op daardie tydstip nog op die aarde sou wees om gereed te maak om vir Hom oop te maak, sou dit beteken dat Sy bruid nie saam met Hom in die hemel was nie toe Sy bruilof voltrek is.

Watter bruidegom het ooit alleen en sonder sy bruid voor die kansel gestaan toe sy huwelik voltrek is? En tog verwag die A-millennialiste dat die Here Jesus Christus – die Bruidegom van alle bruidegoms – se huwelik sonder Sy bruid aan Sy sy voltrek moet word. Dit sou dus niks ander as ‘n sg handskoen-huwelik wees nie. Onthou! In Lukas 12: 35, 36 sê die Here Jesus baie duidelik “En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom . . .”

As dit nie die bruid is wat gereed moet maak om vir die Bruidegom oop te maak nie, wie is dit dan? Openbaring 19: 7-16 beskryf die bruilofsmaal wat na die voltrekking van die huwelik plaasvind. Lukas 12: 35 en 36 suggereer dat die huwelik self in die hemel voltrek word maar dat die bruilofsmaal (die huweliksonthaal) op die aarde sal plaasvind.

Verskeie gelykenisse in Mattheus, o.a. die gelykenis van die vyf wyse en vyf dwase maagde in hoofstuk 25 en die gelykenis van die persoon wat betrap is sonder ‘n bruilofskleed by die bruilofsmaal in hoofstuk 22 is voldoende bewys dat die feesmaal op die aarde gevier sal word. Dit is voor-die-hand-liggend dat as die Bruilof van die Lam en die toebereiding van die bruid in haar rein en ongekreukelde fyn linne reeds ‘n voldonge en afgehandelde gebeurlikheid sal wees wanneer Christus Jesus na die aarde terugkeer met Sy Tweede Koms, dan moes die bruid op een of ander stadium voor Sy Tweede Koms saam met Hom na Sy hemel verhuis het. Inderdaad, Christus Jesus het belowe: “Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14: 2, 3).

Die Pre-Verdrukking Wegraping gaan gepaard met belonings

Op hierdie tydstip is dit belangrik om daarop te wys dat die koms van die Here vir Sy eie gepaard gaan met ‘n beloning (1 Korintiërs 4: 5; 2 Korintiërs 5: 10; Openbaring 22: 12). Dit bring ons by die betekenis van die Bematroon oordeel wat nie met die wit troon oordeel van Openbaring 20:11 verwar moet word nie.

Die eersgenoemde is net vir die gelowiges en laasgenoemde net vir die ongelowiges. Die Skrif omskryf baie duidelik twee tipe opstandings – die opstanding van die regverdiges en dié van die onregverdiges. Sommiges interpreteer Handelinge 24: 17 as ‘n enkele en gelyktydige gebeurtenis. As ons egter na Openbaring 20 verse 5 en 6 kyk, is daar twee duidelik onderskeibare opstandings – dié van almal wat gedurende die Groot Verdrukking vir hulle getuienis onthoof is en vóór die duisendjarige vrederyk opstaan om saam met Christus te regeer en alle ongelowiges wat eers na die duisendjarige vrederyk opstaan om by die wittroonoordeel finaal in die poel van vuur gewerp te word.

Maar, hoe nou gemaak met die opstanding van die dooies by die Wegraping. Is dit nie die eerste opstanding nie? Sommiges maak die fout om “eerste” en “tweede” te sien as twee sekwensiële of chronologiese gebeurlikhede, terwyl die Bybel dit nie so bedoel nie. “Eerste” en “tweede” het bloot ‘n kwalitatiewe betekenis, in die sin dat die eerste lei tot ‘n ewige heerlikheid en die tweede tot ‘n ewige verskriklike verdoemenis.

Die opstanding van die ontslape gelowiges soos beskrywe in 1 Korintiërs 15: 51-55 en 1 Tessalonisense 4: 17 maak deel uit van die eerste opstanding wat lei tot ‘n oordeel – die sg. Bematroon oordeel van Christus. Die doel hiervan is nie om te bepaal of iemand se naam in die Boek van die Lewe voorkom al dan nie, maar om die werke van die gelowiges ná hulle bekering met vuur op die proef te stel om te bepaal wie van hulle lone of krone ontvang. Ons lees hiervan in 1 Korintiërs 3: 11-15:

Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op die fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

1 Korintiêrs 3: 11-15

Daar bestaan geen twyfel nie dat die Bematroon oordeel net vir gelowiges bedoel is. Die persoonlike naamwoord kom te dikwels in 2 Korintiërs 5:1-9 voor om dit oor die hoof te sien of te ontken.

  • Alleenlik die gelowige kan “‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele” hê.
  • Alleenlik die gelowige kan “die sterflike deur die lewe verslind” ervaar. Alleenlik die gelowige kan God se werking ervaar wat “ons ook die Gees as onderpand gegee het.”
  • Alleenlik die gelowige kan die sekerheid hê dat terwyl “ons in die liggaam uitwoon, ons van die Here inwoon.”
  • Alleenlik die gelowige kan “wandel deur die geloof en nie aanskouing nie.” Elke gelowige se werk wat hy/sy in die liggaam gedoen het (2 Korintiêrs 5: 10) sal deur vuur op die proef gestel word om vas te stel wie een of meer van die volgende lone sal ontvang:
  • ‘n Onverwelklike kroon vir elkeen wat oorwinning kry oor hulle vleeslike natuur (1 Korintiêrs 9: 25).
  • ‘n Kroon van Roem en Blydskap vir die sielewinner (1 Tessalonisense 2: 19).
  • Die Kroon van die Lewe vir elkeen wat versoekinge verdra en die toets deurstaan (Jakobus 1: 12).
  • Die Kroon van Geregtigheid wat Sy verskyning (by die Wegraping) liefgehad het (2 Timoteus 4: 8).
  • Die Onverwelklike Kroon van Heerlikheid vir elkeen wat bereid is om die skape die regte voeding te gee (1 Petrus 5: 4).

Die Bruilof van die Lam en die onthaal wat daarop volg

Dit is duidelik dat die Bruilof van die Lam die beëindiging van die Bematroon oordeel in die hemel sal plaasvind terwyl God se oordele sewe jaar lank oor die nasies onder aanvoering van die Antichris uitgestort sal word. Dit bring my flussies weer by die argument dat die Wegraping, volgens die antagoniste van ‘n Pre-Groot Verdrukking Wegraping, eintlik maar die Tweede Koms van Jesus Christus na die aarde is, wanneer Hy die gelowiges gaan opraap om Hom in die lug tegemoet te gaan net om weer dadelik na die aarde terug te keer om die nasies te oordeel. Sou dit waar wees, sal daar hoegenaamd geen tyd beskikbaar wees vir die Bematroon oordeel en die bruilof van die Lam nie.

Sal die Bruid van die Lam deur die sewejarige verdrukking moet gaan?

Dit bring my by die volgende vraagstuk wat die antagoniste van ‘n Pre-Groot Verdrukking Wegraping voor die deur van die wegraap-gelowiges lê en dit is: Sal die gelowiges deur die Groot verdrukking moet gaan? Twee baie duidelik onderskeibare betekenisse van die woord “verdrukking” word in die Bybel gebruik. Dat die gelowige verdrukking in hierdie lewe moet en sal ervaar is nie altemit nie.

Die Here Jesus self het gesê dat ons verdrukking sal hê maar dat ons goeie moed moet hou want Hy het die wêreld vir en namens ons oorwin (Johannes 16:33). Die verdrukking wat gelowiges ervaar, het ‘n gans ander doel en betekenis as die Groot Verdrukking waarvan Christus in Mattheus 24 melding maak.

In hierdie welbekende hoofstuk waarin Jesus ‘n blik op die eindtyd gee, definieer Hy die Groot Verdrukking as ‘n unieke tyd waarin daar so ‘n groot verdrukking sal wees soos daar van die begin van die wêreld nie was nie en ook nie weer sal wees nie (Mattheus 24: 21). Hy kon dus kwalik na die verdrukking van gelowiges verwys het omdat sodanige verdrukking en vervolging reeds van die begin van die skepping voorgekom het en tot vandag toe nog voortduur.

Daar is dus niks uniek aan die verdrukking van die gelowiges nie omdat dit nie net eenmaal en toe nooit weer daarna plaasgevind het nie. A-millennialiste (Preteriste) plaas die Groot verdrukking in die tydperk 70VC toe Jerusalem en die tempel deur die Romeine onder aanvoering van Flavius Vespasianus Titus vernietig is. Indien dit wel die Groot Verdrukking was dan het Christus gelieg toe Hy gesê het: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.”

Elkeen wat bereid is om sy intelligensie wat die Here hom gegee het te gebruik, sal gou agterkom dat Hitler se vervolging en moord van 6,000,000 Jode, en die nagenoeg 50 tot 68 miljoen wat tydens die Roomse Inkwisisie vermoor is, ‘n veel groter en intenser of ten minste netso ‘n groot verdrukking was as dié van Titus.

As ‘n mens die omvang van die Tweede Wêreldoorlog in oënskou neem, dan sou ons die Groot Verdrukking eerder tussen 1938 en 1945 kon plaas omdat Openbaring 3:10 sê dat ‘n uur van beproewing oor die hele wêreld kom. Maar, ook die Tweede Wêreldoorlog en enige ander oorloë wat daarop gevolg het, kon gewis nie die Groot Verdrukking wees nie omdat die gebeure wat onmiddellik na die Groot Verdrukking afspeel hoegenaamd nog nie plaasgevind het nie. Vanaf vers 29 van Mattheus 24 lees ons:

“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”

Matteus 24:29-31

Die Wegraping van alle gelowiges om Christus in die lug tegemoet te gaan, is ‘n unieke gebeurtenis wat in sy wese en doel verskil van Christus se Tweede Koms na die aarde. Ek sal in die verloop van hierdie reeks oor die Wegraping hierdie verskille aandui.

Please share:

Tom Lessing (Discerning the World)

Tom Lessing is the author of the above article. Discerning the World is an internet Christian Ministry based in Johannesburg South Africa. Tom Lessing and Deborah Ellish both own Discerning the World. For more information see the About this Website page below the comments section.

8 Responses

  1. Pieter van der Walt says:

    Ek voel dat die mensdom heeltemal te veel konsentreer op die wegraping aspek en inplaas daarvan te konsentreer om in geloof in geloof in Jesus te leef. As die wegraping enieits met ons redding te doen gehad het sou die Here dit baie duidelik in Sy woord onderstreep het. Hy sou ook sy dissipels daarvan geleer het. In die Bybel word ons deur Jesus onderrrig oor Sy geboorte, Sy doop, Sy woderwerke, Sy lyding, Sy kruisiging, Sy opstanding en Sy hemelvaart. Ons lees van die belofte dat Jesus sal terugkeer om almal wat aan Hom behoort te kom haal. Ons word geleer dat ons in vertroue en in geloof op Jesus moet leef. Het sy die wegraping pre, middel of na die verdrukkings tydperk is, is irrelevant. Wat belangrik is, is of ons gereed is wanneer Jesus ons kom haal. Jesus het nie oor n wegraping gepreek nie of wanneer dit sal plaasvind nie. Hy het oor die nuwe koninkryk van God,Sy Vader,gepreek en dat God op n nuwe manier gaan regeer.

    Die satan is bedrywig en laat die skrifgeleerdes, predikante en nog vele meer betrokke raak in n bek- en pen gevegte oor iets waaroor Jesus nie gepreek het nie. Mense begin glo dat as jy nie in die wegraping pre of middel of na glo nie dan sal jy hel toe gaan. N man het my eendag trompop bestorm en gevra of ek in die pre verdrukkig wegraping glo. Ek was so verstom en voor ek hom kon antwoord se hy vir my as ek nie daarin glo nie is die hel my tuisland. Ek lees in die Bybel dat wanneer Jesus terug kom sal die doies wat in geloof gesterf het eerste sal opstaan en die ander wat nog leef en in Jesus glo sal dan n nuwe liggaam ontvang en opvaar na Jesus.So of daar n pre wegraping is of mid of na verdrukkings tydperk is nie so belangrik nie wat wel van uiterste belang is,is jy gereed wanneer dit plaasvind. Preek dan liewers dat mense moet gereed wees en in geloof lewe as wanneer die wegraping plaasvind. Terloops ek lees in die Bybel net van n tweede terug keer van Jesus wanneer Hy op die wolke verskyn om ons te kom haal.

    Pieter van de Walt

  2. Hallo Pieter,

    Waar en wanneer het ek gesê die Pre-Groot Verdrukking het iets met ons redding te make? Dit wys mos vir my dat jy my kommentaar nie volledig deurgelees het nie.

    Indien die koms van Jesus vir sy volgelinge by die Wegraping nie belangrik was nie, sou Paulus nooit die volgende kon sê nie:-

    Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het. (2Ti 4:7-8)

    Hierdie verskyning praat van sy eerste koms na die aarde maar ook na die Wegraping. Waarom verwys dit ook na die Wegraping en nie sy Tweede Koms na die aarde nie? Omdat die Wegraping en sy Tweede Koms na die aarde nie dieselfde gebeurtenis is nie. Daar is verskeie verskille tussen die Pre-Groot Verdrukking en sy Tweede Koms na die aarde. Ek bespreek dit in die opvolg van my eerste uitgawe van hierdie reeks. Het jy my hele kommentaar gelees? Dit lyk nie so nie.

    Die ou wat gesê het jy’s ongered omdat jy nie in die Pre-Groot Verdrukking Wegraping glo nie, praat loutere snert. Jy skryf:

    So of daar ‘n pre wegraping is of mid of na verdrukkings tydperk is nie so belangrik nie wat wel van uiterste belang is,is jy gereed wanneer dit plaasvind. Preek dan liewers dat mense moet gereed wees en in geloof lewe as wanneer die wegraping plaasvind.Terloops ek lees in die Bybel net van n tweede terug keer van Jesus wanneer Hy op die wolke verskyn om ons te kom haal.

    Veronderstel jy het in Paulus se tyd gelewe en die Christene in Thessaloinika wat onder vlaag op vlaag van geweldige vervolging gelewe het, sou vir jou skryf en sê hulle is bevrees dat hulle die Wegraping misgeloop het en dus reeds in die Groot verdrukking was. Sou jy vir hulle sê “Ag moonie worry nie, man. Daar’s nie so iets soos ‘n Pre-Groot Verdrukking Wegraping nie. Daar’s net een koms wanneer die Here midde in die grootste oorlog wat die wêreld nog ooit gesien het terugkom?”

    Sien, Paulus het juis vir hulle geskryf om hulle te herinner aan wat hy voorheen aan hulle oor die Wegraping meegedeel het. Hulle het gedink die ontslapenes het die Groot Verdrukking vrygespring het en dat hulle arme drommels reeds in die Groot Verdrukking was omdat hulle agter gebly het. Paulus skryf dan soos volg:

    Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.” (1Th 4:13-18; 1 Kor 15:51-54).

    Jy sal met my saamstem dat die nuwe koninkryk waarvan jy ook praat ‘n heerlike tyd sal wees, vry van vervolging, lyding, oordeel, toorn hartseer ens. ens. Indien dit waar sou wees dat daar net een wederkoms sou is, sou Paulus nie die volgende kon neerpen nie.

    Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos. (1 Th 1:9-10)

    Die koninkryk van God volg direk na die koms van Jesus na die aarde. Hoe nou gemaak? Is die nuwe koninkryk ‘n tyd van toorn? Dit kan moes nie wees nie. En moet asseblief nie vir my sê dit verwys na die eindoordeel nie want elke Christen het reeds geweet dat hulle die toorn van God deur hulle wedergeboorte in Jesus ontsnap het. Dit was nie nodig om vir hulle te sê dat God hulle van die toekomstige oordeel sou verlos nie, as hierdie oordeel die eindoordeel was. Paulus het dit reeds in Romeine vir hulle gesê:

    Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. (Rom 8:1)

    Hy moes dus na iets anders verwys het. Inderdaad, hy het verwys na die Groot Verdrukking, ‘n ongekende tyd van God se oordele oor die hele aarde, waarvan God hulle sou verlos. Dit sluit aan by Openbaring 1:3

    Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. (Rev 3:10)

    So, jy sien, die Wegraping is nie irrelevant nie. Dit is een van die belangrikste leerstellings in die Bybel. JY sê Jesus het nooit daaroor gepraat nie. Wie sê? Jesus het dan die hele Evangelie (insluitende die Wegraping) persoonlik aan Paulus meegedeel.

  3. Ronald says:

    Haai daar! ‘n Goeie ‘artikel’ en een na aan my hart! Dit is wonderlik om te weet dat daar wel mense is wat uitkyk en Jesus, ons Koning en Bruidegom verwag! Die voor-verdrukking wegraping of pre-verdrukking wegraping word nie deesdae geglo nie. Ek kan net logika gebruik en sê dat mense nie werklik meer uitkyk en die Here verwag nie. Dit is grotendeels te wyte aan die ‘prosperity’ leering wat mense mislei dat daar GROOT geld en goeie tye kom pleks daarvan om te sien wat rondom hulle gebeur. Dit sal ook deurslaggewend wees dat elke ware kind van God ‘n verhouding met Hom sal hê en in voortdurende gesprek met Hom sal bly. Baie dink hulle ken die Here, maar wat sê Hy? Sê Hy dat Hy jou ken? Laat Hom dit aan jou hart bevestig en dit nie net jou eie mening wees nie.

    Daar is ‘n Bruid van Christus, maar nie ALMAL is deel van die Bruid nie; daar is gaste ook. Dit is altyd vir my baie opvallend dat diegene wat in die wegraping glo verkwalik en beskuldig word daarvan dat hulle net sit en wag vir die Here en nie hulle deel doen nie of besig is om sout en lig te wees nie (ek mik dit nie op Pieter nie – dis hoe ek dit ervaar). Ek verwag die Here selfs hierdie jaar (2014) en voel dat dit nou baie naby is. Mense besef nie die erns van die situasie en die tyd waarin ons leef nie. Jy mag ook nie sê wat ek nou net hier genoem het nie of jy hoor baie gou dat niemand die dag of die uur weet nie. Ek het nie ‘n dag of uur genoem nie, maar glo werklik dat dit skielik gaan gebeur enige tyd nou en Jesus het gesê ons moet waak en bid sodat ons waardig geag kan word om die dinge wat kom te ontvlug en voor die Seun van die Mens te kan staan – sien Lukas 21 vers 36. Kyk uit mense en as jy nie saam stem met die wegrapings- leer nie, gaan praat dan met jou Hemelse Vader daaroor. Die Heilige Gees van God sal jou ALTYD in die Waarheid lei!

    Ronald

  4. Marietjie says:

    Hoe wonderlik en raak is die Woord van God nie. Ek is van kleintyd in my ouerhuis geleer dat Jesus eendag sy bruid gaan kom haal en Ronald ek stem saam dit voel vir my ons kan daaraan vat, so naby is die wegraping. Al die tekens wat Jesus in Mat 24 en ander plekke vir ons gegee het is vervul!

    Hef julle hoofde op!
    Maranata!!!

    Marietjie

  5. Hein says:

    [DELETED by DTW]

  6. Leon says:

    Hier kort ‘n ‘link’ na deel 2. Julle hoef natuurlik nie die kommentaar te plaas nie

  7. Dear Leon

    That is a good question, where is Part 2? lol, I can’t find it.

  8. HI Debs,

    I am still trying to find it.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *