Note: Permission received to publish this article in full. Thank you Prof: www.bibleguidance.co.za [Picture added by DTW]
Die Verbondsvolk Israel: Wie is Hulle?
Prof. Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Maniere van Skrifverklaring
Daar is baie verskillende maniere waarop die Bybel verklaar of vertolk word (in teologiese taal staan dit as eksegese bekend) om by mense se eie, vooropgestelde idees aan te pas. Sommige van hierdie verklarings is subjektief, met ‘n sterk politieke ondertoon, en is daarop ingestel om die Bybel en kerk polities aanvaarbaar te maak. In hierdie gevalle wissel die manier van Skrifverklaring saam met die politieke klimaat in ‘n land of volk.
In Suid-Afrika was daar in die apartheidsjare bv. verskillende kerke wat die konsep van afsonderlike ontwikkeling teologies geregverdig en ook die Bybel so verklaar het. Hulle het Bybelse gronde vir die idee van verskillende kerke vir verskillende volke, rasse en taalgroepe gevind. Toe die politieke klimaat egter in die tagtiger- en vroeë negentigerjare radikaal verander het, het baie van hierdie kerke saam met dit verander. Toe het hulle skielik geen regverdiging meer in die Bybel vir ‘n volksingesteldheid op kerklike gebied gekry nie en afsonderlikheid, of apartheid, tot ‘n sonde verklaar.










